Tuinier van vermoorde Pringlebaai-vrou verskyn in hof

‘n Man wat as ’n tuinier by Ferra Thompson van Pringlebaai in die Wes-Kaap gewerk het, het Donderdag in die landdroshof in Caledon in verband met haar moord verskyn.

Martin Ncube (20), ’n Zimbabwiese man, staan op aanklagte van moord en motordiefstal tereg.

Volgens kapt. Danie Rautenbach, ondersoekbeampte, het Ncube aangedui dat hy nie om borgtog aansoek wil doen nie. Hy het nog nie gepleit nie.

“Die staat het ook aangedui dat borgtog teengestaan sal word.”

Die saak is uitgestel vir verdere ondersoek.

Thompson (52) se lyk is Maandag in haar huis in Hangklipweg in Pringlebaai gevind. Haar hande en voete was vasgebind en sy het ’n sak oor haar kop gehad. Sy het vermoedelik versmoor.

Ncube is Dinsdagoggend in Kleinmond in hegtenis geneem. Hy is na bewering op verkeerskameras in Thompson se motor, ’n Honda Jazz, afgeneem. Die motor het Sondagaand by die R43-kruising teen ’n boom gebots, waarna dit aan die brand geslaan en uitgebrand het.

Ncube het glo ’n ligte brandwond opgedoen.

Ncube werk die afgelope maande vir Thompson as tuinier.

Volgens inwoners het Thompson alleen gewoon. Haar man, Rodger, werk in Tanzanië. Die egpaar is oorspronklik van KwaZulu-Natal en het sowat ’n jaar gelede na die Wes-Kaap verhuis.

Ncube bly in aanhouding tot sy volgende verskyning op 13 Oktober.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!