Tuinier vermoor bejaarde dame (86)

‘n Bejaarde dame (86) is Woensdag in haar huis in Gardenia Park, Bloemfonteinvermoor deur ’n nie-blanke tuinier wat in haar diens was.

Die bejaarde dame wie se naam nie bekend gemaak mag word nie, se lewelose liggaam is deur haar bure ontdek nadat hulle haar ’n soos gewoonlik opgemerk het nie.

Die polisie het ondersoek ingestel, en bloed aan die hoed van die tuinier gevind wat ooreenstem daarmee wat in die slaapkamer van die vermoorde gevind is.

Hy is in hegtenis geneem en sal eersdaags in die hof verskyn.

Bron: Vryburger

Vrae ná Bfn-vrou se dood

Bloemfontein. – Die tuinwerker van ’n bejaarde vrou van die woonbuurt Gardeniapark wie se lyk Woensdag in haar huis gevind is, verskyn na verwagting Vrydag in die stad se landdroshof op ’n aanklag van moord.

Die 48-jarige man is by Hester (Hettie) Thomas (85) se huis, waar hy in ’n kamer agter in die erf bly, in hegtenis geneem.

Vrae bestaan egter oor die dood van Thomas, wie se lyk Woensdag omstreeks 17:00 halfnaak in haar slaapkamer gekry is.

Kapt. Chaka Marope, ’n polisiewoordvoerder, sê sy het op haar rug in ’n plas bloed gelê en is vermoedelik met ’n stomp voorwerp teen die kop geslaan.

Volgens Marope word vermoed dat Thomas reeds Maandag vermoor is. Haar lyk is ontdek nadat die tuinwerker by die Maison Gardenia-haarsalon, nie ver van haar huis waar sy byna weekliks haar hare laat doen het, alarm gemaak het omdat hy haar lank nie gesien het nie.

Thomas se stiefseun, Denis (53), van Bloemfontein, sê egter hy is nog in die duister oor die oorsaak van haar dood.

Volgens hom wys die lykskouing net dat sy stiefma aan ’n kopbesering dood is. Niemand kan sê of sy aangeval is of geval het nie.

Albei die deure van sy stiefma se huis was van binne gesluit en die veiligheidskettings op. Dit lyk ook nie of iemand ingebreek het nie, sê hy.

“Dit is baie vreemd dat die huis van binne gesluit is. Een van twee dinge kon gebeur het: My stiefma en die man het moontlik in die kombuis gestoei, waarna sy hom op ’n manier uit die huis gekry en die deure gesluit het. Of sy het geval.

“Daar was ook nie baie bloed nie. Daar waar sy gelê het, was drie kolletjies bloed. Die kamer is ook nie geplunder nie en net twee laaie was oop. Dit lyk of sy iets gesoek het. In dié sta­dium is dit moeilik om iets te sê, want ek weet nie wat om te dink nie,” sê Denis.

Volgens hom het hy die verdagte nie geken nie en nie eens geweet hy het agter in die erf gebly nie.

Estelle Budd (59), Thomas se jare lange haarkapper, sê die tuinwerker het Woensdag gesê hy het Thomas tien dae laas gesien.

“Ek het gedink dit is vreemd en het self gewonder hoekom ek haar twee weke laas gesien het. Ek het die polisie gebel.

“Sy het baie jare hierheen gekom. Ek is verskriklik ontsteld en geskok. Dit is soos om ’n familielid te verloor. Sy was so ’n dierbare mens,” sê Budd.

Dr. Jannie van den Berg (68), ’n buurman wat die polisie gehelp het om die deur oop te breek, sê hy het Thomas verlede week nog gehoor.

“Ons is baie erg geskok. Om te dink dit gebeur hier langs jou. Dit is regtig sleg. Sy was ’n baie stil vrou wat nie baie uitgegaan het nie,” sê hy.

Marope sê die tuinwerker is in hegtenis geneem omdat hy nie ’n bevredigende antwoord kon gee oor hoekom daar bloed aan sy pet en komberse is nie. Die man het glo voorgegee hy weet nie wat gebeur het nie.

Marope sê nog moontlike klagte van verkragting en roof kan bygevoeg word.

  • Thomas is in 2010 ook by haar huis aangerand en pimpel en pers geslaan. Sy is geslaan, gewurg, getrap en bokant haar linkeroog met ’n mes gesteek en was vyf dae lank in die Pelonomi-hospitaal vir behandeling.

Bron: Netwerk24 


 

Enjoyed this post? Share it!