Twee goed by die ANC se nasionale konferensie wat vinnig beweeg – kos en kondome

Daar was Saterdagoggend net twee goed by die ANC se nasionale konferensie wat vinnig beweeg – Kos en kondome.

Dit hou seker verband met die wag-en-sien-situasie by die Nasrec Expo-sentrum in Johannesburg waar die ANC se nasionale konferensie Saterdag teen middagete nog nie begin het nie.

Die verrigtinge was veronderstel om 09:00 amptelik af te skop.

Vir enkele minute was daar wel gesprekke om tafels in veral die mediasentrum oor die vinnige pas waarteen die kondome uit veral die manstoilette verdwyn. Die diensverskaffers, wat die kondoomhouers herhaaldelik hervul, is blykbaar fyn ingestel op al die fyner besonderhede.

’n Mens kan die wagtende joernaliste seker nie regtig kwalik neem dat hulle begin praatjies maak oor die krimpende getal kondome, die gehalte van die kos en die wispelturige koffiemasjiene nie.

’n Mens kan immers net soveel keer bespiegel oor hoe laat die konferensie uiteindelik gaan open, of dit wel gaan gebeur en wanneer die laaste afgevaardigdes uiteindelik klaar sal registreer. Die registrasieproses moes eintlik al teen Vrydag afgehandel gewees het.

Die klimaks is eers Sondag, wanneer die naam van die nuwe ANC-president aangekondig sal word. Met die strawwe mededinging tussen adj.pres. Cyril Ramaphosa en dr. Nkosazana Dlamini-Zuma vir die ANC-toppos sal enige verdere bespiegelinge in elk geval voortydig wees.

Maar die ANC – of sy raadgewers – weet ook goed dat ’n joernalis wie se honger en dors geles word, minder ongeduldig is. Daarom die rojale ontbytaanbod: romerige roereiers, spek, boontjies in tamatiesous, aartappelkoekies, worsies, soesji, ham-en-kaasrolletjies en geperkoleerde koffie, tee vir elke fynproewersmaak en sap en water in oorvloed. Genoeg om elke gemoed op te kikker.

By tye kry ’n mens ook die gevoel die ANC speel ook ’n kat-en-muisspeletjie. Miskien probeer hulle ook maniere vind om hulself te amuseer, want uiteindelik moet almal tog net wag dat iets gebeur. ’n Mens begin vermoed die talle ad hoc-mediakonferensies is maar eintlik net bedoel om te sien hoe al wat ’n joernalis is daarheen skarrel uit vrees dat hulle iets sal misloop.

Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, byvoorbeeld, se konferensie oor die spesiale vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee Saterdagoggend het ’n volle drie minute geduur.

Joernaliste se gevoel van bederf verdwyn egter vinnig wanneer die ander werklikhede tref. Want loer jy by die glasdeure van die mediasentrum uit, kyk jy vas in die “groot skeiding”.

Nasrec se eie Kamp Staaldraad.

Waar daar by die ANC se nasionale beleidskonferensie ’n enkele staalheining was om joernaliste van afgevaardigdes weg te hou, is daar dié keer ’n dubbele ry staalheinings.

Nogal vreemd vir ’n party wat sê hy wil mense nader aan mekaar bring.

Nog ’n bewys van die alomteenwoordige paranoia in die ANC is die onverbiddelike kyk van die hordes veiligheidswagte en polisielede, al glimlag hulle vir jou. By elke ingang van Nasrec maak hulle met militêre presisie seker elke betreder het die nodige akkreditasie.

Saterdagoggend het ’n polisiehelikopter hoog bo die Expo-sentrum gedraai.

Eintlik is dit die aard van politieke konferensies.

Toe Zuma Vrydagaand op die galadinee spot dat daar twee joernaliste vir elke politikus is omdat die belangstelling in die ANC so groot is, kan ’n mens hom gerus glo.

Die hele land wag inderdaad om te hoor wat ná Sondag, wanneer die nuwe leier van die party aangewys word, hul lot sal wees.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!