Twee slagoffers beseer tydens twee afsonderlike kleinhoewe-aanvalle in Suid-Afrika

Twee afsonderlike kleinhoewe-aanvalle het hulle Dinsdag in Noordwes en Gauteng afgespeel.

Die eerste aanval het noord van Potchefstroom in die Rysmierbult-omgewing langs die R501 plaasgevind.

Kapt. Amanda Funani, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê ʼn man en vrou het in hul huis televisie gekyk toe hul honde omstreeks 21:15 op die kleinhoewe begin blaf het. Die man het uitgestap om ondersoek in te stel waarna ʼn aanvaller glo oor die muur gespring en ʼn vuurwapen teen die man se kop gehou het.

Die aanvaller het die man in die huis ingedwing en geld by hom geëis. “Die man het geweier om geld vir hom te gee,” het Funani gesê.

“ʼn Tweede aanvaller het die huis binnegekom en die man in die hand gesteek.”

Volgens Funani het daar ʼn struweling ontstaan en iemand het ʼn paniekknoppie gedruk. Funani het ook gesê die vrou het weggekruip tydens die aanval en vanuit haar wegkruipplek twee skote op die aanvallers afgevuur voordat hulle gevlug het.

Markus Fourie, woordvoerder van die plaaslike buurtwag, het aan Maroela Media gesê die man se vrou het gehoor hy praat met iemand en die situasie klink verdag. “Sy het toe die haelgeweer gaan haal,” het hy gesê.

Volgens Fourie het die man kamer toe gehardloop nadat hy in die hand gesteek is en die rowers het twee skote op hom afgevuur.

“Albei was gelukkig mis,” het Fourie gesê. Een van die slagoffers het ook twee skote afgevuur en die rowers het op die vlug geslaan.

Die rowers het glo twee selfone tydens die aanval gesteel.

“Die egpaar het eers later die man se selfoon in die kamer gekry en omstreeks 21:45 die buurman in die hande gekry,” het Fourie gesê. Die buurman het glo op ʼn tweerigtingradio hulp ontbied.

Fourie het gesê die man is op die toneel behandel vir die wond aan sy hand. Volgens hom is een van die honde ook vergiftig tydens die aanval.

ʼn Saak van huisroof en poging tot moord word ondersoek. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

In ʼn tweede onverwante voorval is ʼn man ernstig beseer toe aanvallers hom op ʼn kleinhoewe in die Apiesrivier-gebied, suid van Hammanskraal, oorval en met ʼn moersleutel oor die kop geslaan het.

Volgens Pieter Oosthuizen, hoof van die plaaslike buurtwag, het dit op sy buurplaas gebeur. “Daar is twee vroue, een man, een baba en ʼn kleuter wat daar woon. Hulle boer nie self nie, hulle pas net die huis op,” het Oosthuizen vertel. Die voorval het omstreeks 03:30 plaasgevind.

Oosthuizen het gesê die aanvallers het toegang tot die huis verkry deur diefwering oop te breek. “Hulle het die man eerste aangeval waar hy gelê en slaap het. Hulle het hom met ʼn moersleutel oor die kop geslaan voordat hulle met selfone, beursies, horlosies en ʼn klanktoestel op die vlug geslaan het.”

Die slagoffers kon daarin slaag om een van die vroue se suster te bel vir hulp. Die vrou het toe vir Oosthuizen gebel en hom van die aanval ingelig.

Die man is volgens Oosthuizen na die Steve Biko-hospitaal gehaas.

Oosthuizen het gesê die twee aanvallers wat vermoedelik by die aanval betrokke was, is die afgelope paar maande baie doenig in dié omgewing en hul spore is al ʼn paar keer by vorige misdaadtonele gekry.
Die plaaslike polisiewoordvoerder was op navraag van Maroela Media nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Deur: Maroela Media

Enjoyed this post? Share it!