Tweede moord in maand by Verwoerdburg hoewes

Twee mense is presies ‘n maand uitmekaar in die Laezonia kleinhoewe-gebied naby Verwoerdburg vermoor.

‘n Jongman is Maandag op ‘n kleinhoewe in die betrokke omgewing doodgeskiet by ‘n besigheid wat vee verkoop.

Volgens ‘n woordvoerder van die Erasmia-polisie het die polisie saam met veiligheidswagte gereageer op ‘n huisalarm wat op die hoewe langs die R511-pad afgegaan het.

Hulle het die jongman (25 jaar), wat ‘n werknemer by die besigheid was, in ‘n plas bloed aangetref toe hulle op die toneel aankom.

Hy is twee keer in die bolyf geskiet en is op die toneel dood verklaar.

Twee verdagte persone is blykbaar kort voor die moord op die hoewe opgemerk.

Die voorval het by die kleinhoewe plaasgevind terwyl die eienaar nie teenwoordig was nie. Niks is klaarblyklik gesteel nie.

Op 25 Junie vanjaar is Wayne Skews (63 jaar) op ‘n hoewe in dieselfde omgewing tydens ‘n gewapende rooftog doodgeskiet toe vier aanvallers op sy kleinhoewe toegesak het en hom in die bolyf geskiet het. Sy vrou, Susan, en twee kinders is tydens die rooftog vasgebind.

Niemand is nog aangekeer in verband met die twee moorde nie.

Bron: Vryburger


Enjoyed this post? Share it!