Uitvoerende Hoof van FNB se gevleulde woorde oor SAA maak opslae

Die Uitvoerende Hoof van Eerste Nasionale Bank, Jacques Celliers, het Maandag opslae gemaak op die sosiale media toe hy aangekondig het dat hy nie langer met SAA sal vlieg nie omdat die misbruik van finansies nou moet endkry. Hy sê hy sal in die toekoms van “eerbare alternatiewe” se dienste gebruik maak.

Ons verneem dat die Minister van Finansies, Malusi Gigaba, hom vandag hieroor onder vier oë wil spreek.
Die DA se Parlementslid, Alf Lees, het ook gereageer deur te sê dat Celliers ‘n dapper standpunt inneem en dat hy self ook nie met SAA vlieg nie, maar dat die DA nie SAA sal boikot nie.

SAA, wat deur die Staat besit word, toon sedert 2011 nog geen wins nie en sedert 2015 het ‘n opeenvolging van regstellende aksie waarnemende hoofde die krisis bloot laat vererger. Front Nasionaal het vroeër vanjaar reeds ernstig beswaar aangeteken toe dit aan die lig kom dat Gigaba oorweeg om die GEPF, die staatspensioenfonds, te plunder om SAA uit die moeilikheid te help. Die vrees bestaan dat dit derduisende staatspensioenarisse in dieselfde situasie kan laat beland as die Transnet pensioenarisse.

SAA se probleme is van so ‘n aard dat werknemers waarskynlik nie hierdie maand salarisse kan ontvang nie. Sacca, die vakbond vir lugdienspersoneel, het op 27 Julie klagtes van diefstal, wanbestuur en korrupisie teen die Raad van die SAA aanhangig gemaak. Volgens hulle is sowat R1,86 biljoen reeds gesteel.

SAA se uitgawes vir Julie 2017 beloop reeds R568 miljoen. Aan die einde van Junie het Gigaba R2,297 biljoen uit die Staatskas onttrek om SAA te help om Standard Chartered Bank te betaal vir die geld wat aan hulle geskuld word. Dit laat ‘n balans van R13,755 biljoen wat SAA nog aan skuld moet betaal – en wat nie gedoen kan word nie omdat hulle teen ‘n verlies werk.

FN ondersteun die beginselvaste standpunt van Jacques Celliers en spreek die hoop uit dat verantwoordelike Hoofde van ander groot instellings sy voorbeeld sal volg. Of dit die verkwisting en verduistering van openbare fondse sal beëindig is natuurlik te betwyfel. Die tesourie het ondertussen bekend gemaak dat ‘n senior finansiële amptenaar van Vodacom, Vuyani Jarana, aangewys is as nuwe grootbaas van SAA.

Deur: Daniël Lötter/Front Nasionaal Suid-Afrika


Enjoyed this post? Share it!

 
  • brt vd merwe

    As ‘n lugdiens nie sy skuld of sy personeel se salarisse kan betaal nie wat is die kans dat hulle vliegtuie behoorlik in stand gehou word?