Universiteit van die Vrystaat ‘is voorbereid op ontwrigting’ – akademiese aktiwiteite word veruil vir misdaad

Die Universiteit van die Vrystaat (UV) is gereed sou betogings weer op sy kampusse opvlam.

Lacea Loader, direkteur: kommunikasie en handelsmerkbestuur aan die UV, het Donderdag gesê die UV het gebeurlikheidsplanne en veiligheidsmaatreëls reg sou ontwrigting weer voorkom.

Klasse op die UV se Qwaqwa-kampus is Woensdag gestaak nadat ’n groep studente die hoofingang na die kampus versper het. In Bloemfontein is klasse en toetse ook deur studente ontwrig nadat ’n vergadering van studente by die Studente-lekgotla op die kampus plaasgevind het.

Hoewel groepe studente steeds deur die loop van Donderdag probeer het om akademiese aktiwiteite op die Bloemfontein-kampus te ontwrig, het toetse en klasse voortgegaan. Die situasie op die Qwaqwa-kampus was ook kalm.

Die UV het Donderdag in ’n verklaring op sy webwerf gesê dat die voortsetting van die akademiese program ’n voorkeur is en studente wat aan die ontwrigting deelgeneem het, sal ingevolge die universiteit se tugprosedures gedissiplineer word.

Die UV het personeel en studente van albei kampusse gevra om kalm te bly en te fokus op die voltooiing van die akademiese program vir die res van die jaar.

Die UV het aangedui dat geen besluit oor die verhoging van onderriggeld vir 2018 geneem is nie.

Studente het Donderdag ook ’n griefskrif aan die bestuur van die UV oorhandig. Vereistes in die griefskrif sluit in dat onderriggeld nie in 2018 verhoog word nie, dat die bestuur die studenteraad geldelik ondersteun deur die Right2Learn-program, dat die veiligheid van studente wat nie op die kampus woon nie verseker word, en dat gratis en onbeperkte Wi-Fi-toegang in ’n radius van 3,5 km om die kampus verskaf word.

Die UV het aangedui dat geen besluit oor die verhoging van onderriggeld vir 2018 geneem is nie en dat so ’n besluit deur die universiteitsraad geneem moet word.

Prof. Francis Petersen, rektor en visekanselier, het Woensdag se situasie met Asive Dlanjwa, president van die studenteraad, bespreek en die bestuur van die Qwaqwa-kampus het dieselfde besprekings met dié kampus se studenteraad gehad.

Die akademiese aktiwiteite gaan Vrydag op albei kampusse gewoonweg voort.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!