UNPO gaan ANC-vergrype ondersoek, asook gruweldade teen plaasboere in SA

Die internasionale organisasie vir die beskerming van minderhede, UNPO (Unrepresented Nations and Peoples Organization) het ʼn mosie van die VF Plus aanvaar om ondersoek te laat doen na onder meer vergrype van die ANC-regering oor ʼn wye spektrum, asook oor gruweldade teen plaasboere in Suid-Afrika.

Die besluit het gevolg op ʼn mosie wat dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, aan UNPO se dertiende algemene vergadering in Edinburg, Skotland, voorgelê het.

Die mosie het ingesluit die aftakeling van die land se ekonomie, korrupsie, magsmisbruik, die marginalisering van minderheidsgroepe, rassepolarisasie en die lot van die boeregemeenskap in Suid-Afrika.

Die mosie het kennis geneem van die openbare uitsprake van pres. Jacob Zuma en ander regeringsleiers wat die Afrikaner-minderheid demoniseer, en dat hy en ander regeringsleiers wat die Afrikaner-minderheidsgroep die skuld gee vir die huidige ekonomiese onrus, werkloosheid en armoede.

Die mosie maak ook melding van die voortgesette strewe van die regering om die onteiening van grond sonder vergoeding te wettig, en wys op die meer as 2 393 plaasmoorde en 14 589 plaasaanvalle wat sedert 1991 plaasgevind het en die brutale en gewelddadige aard van hierdie plaasaanvalle en moorde.

UNPO se Algemene Vergadering dring daarop aan dat die Suid-Afrikaanse regering aan die Handves van Regte van Suid-Afrika moet voldoen, dat sosiale eenheid, minderheidsgroepe se taal- en kultuurregte bevorder word, plaasaanvalle tot ‘n prioriteitsmisdaad verklaar word en dat daadwerklike stappe gedoen word om dit stop te sit, en dat die Verenigde Nasies se Menseregtekommissie versoek moet word om ‘n volledige ondersoek te hierna te doen om sodoende druk op die Suid-Afrikaanse regering te plaas om ‘n einde te maak aan hierdie gruweldade.

Dr. Groenewald is ook op die presidensie van Unpo verkies in die plek van dr. Pieter Mulder wat vir etlike jare op die presidensie gedien het.

Bron: Die Vryburger


Enjoyed this post? Share it!