Upington – Bejaarde egpaar op hoewe oorrompel en aangerand

’n Bejaarde egpaar van Klippunt, sowat 15 km buite Upington, is Vrydagaand in hul huis op ’n hoewe oorrompel en wreed aangerand.

Sanette en Willem Louw is glo deur drie mans en ’n vrou by hul huis ingewag.
Volgens ’n vriend van die egpaar, Jaco Van Rooyen, het Willem Louw Vrydagaand ná werk eerste by die hoewe aangekom.

Louw het glo aan Van Rooyen gesê sy honde het snaaks opgetree toe hy die hoewe se hek oopgemaak het.

Hy het egter nie onraad vermoed nie aangesien die honde al voorheen so opgetree het as hulle ’n slang gewaar het.

“By die huis se voordeur het hy gemerk dat daar aan die slot gepeuter is, maar toe hy omdraai het die aanvallers hom glo aangeval en oor die kop geslaan,” sê Van Rooyen.

Louw is toe glo aan ’n stoel vasgebind en vermoedelik met ’n ysterpyp telkens oor sy kop en lyf geslaan. Sy arm is in die proses gebreek.

Hulle het Louw se mond met kleefband toegebind en sy hoed oor sy oë getrek en vermoedelik ook met die kleefband toegebind.

Sanette het daarna by die huis opgedaag.

“Die tannie het letterlik in die leeu se bek ingeloop,” sê Van Rooyen.
Die aanvallers het geld by die egpaar geëis. Sanette is glo ook aangerand en vasgebind.

Sy het later haar bankkaart en PIN aan die aanvallers gegee en glo gesê hulle moet geld by ’n OTM in die dorp onttrek.

Die aanvallers is toe glo met die egpaar se motor dorp toe, maar het teruggekeer omdat hulle meer geld wou hê.

Sanette het glo aan die aanvallers gesê dat hulle ná middernag weer kon trek.
Die aanvallers is weer terug dorp toe. In dié tyd het Sanette dit reggekry om haarself los te woel en die polisie te bel met ’n foon wat in die huis versteek was. Die egpaar se selfone is deur die aanvallers gebuit.

Volgens kapt. Jacques September, polisiewoordvoerder, is die verdagtes in Z.F. Mgcawu-rylaan in Upington in die egpaar se motor vasgetrek en in hegtenis geneem.

Sanette het Van Rooyen eers Saterdagoggend omstreeks 07:00 gebel om hulle te help.

Hy het hulle na die hospitaal geneem.

“Hulle is goeie mense. Kan jy glo die tannie wou my nie in die vroeë oggendure steur nie,” het Van Rooyen gesê.


Deur: Anena Burger/Netwerk24

Enjoyed this post? Share it!