Vakansiegangers bring water na droeë gebiede

In ‘n projek wat deur Sue Wolmarans van George van stapel laat loop is, word water deur vakansiegangers in die Suid-Kaap wat terugkeer huis toe, saamgeneem na dorpe met ’n ernstige watertekort, soos Aliwal-Noord in die Oos-Kaap.
Inwoners en besoekers aan die Suid-Kaap word gevra om bottels vol water te maak. Die inwoners laai dit dan by bepaalde plekke in George en Mosselbaai af waar dit opgelaai word deur vakansiegangers wat terugkeer huis toe. Skenkers kan op die bottels aandui of dit drinkwater of tenkwater is wat vir diere of sanitêre doeleindes geskik is.
Aflaaipunte vir die water is al in dorpe landwyd, soos Welkom, Port Elizabeth, Colesberg, Postmasburg, Rustenburg en Nelspruit, geïdentifiseer.
Die groep het hulle eie Bakkiesblad gestig: Water Shortage South Africa.
Deon Smit van Aliwal-Noord wat gemoeid is met die veldtog om water vir die dorp te bekom, het gesê die inwoners is opreg dankbaar vir alle Suid-Afrikaners se hulp.
Volgens hom word die geskenkte water wyd versprei, onder meer aan hospitale en ouetehuise.- Die Vryburger

Enjoyed this post? Share it!