“Vandag gaan ek jou doodmaak!” – Plaasaanvaller. Maar Boer se hond red sy lewe.

“Vandag gaan ek jou doodmaak!” het ’n plaasaanvaller glo herhaaldelik vir ’n bejaarde boer van die Tweespruit-distrik, Dick Osborne (67), geskree voordat hy hom Saterdag om 06:45 eers met ’n pylgeweer oorrompel én hom toe ses keer met ’n skerpgemaakte lem gesteek het.

Ben Nothnagel, sy vriend en buurman, aan wie Osborne sy hele nagmerrie-ondervinding vertel het kort nadat hy hom op die plaas te hulp gesnel het, sê Osborne se toestand is stabiel.

“Hy word in die Mediclinic Bloemfontein verpleeg waar ’n dreineringsbuis in sy regterlong gesit is om die bloed te dreineer en waar sy wonde versorg is.

“Hy het waarskynlik sy lewe aan sy Australiese beeshond, Jack, te danke wat die aanvaller begin byt het.

Jack is ook drie keer deur die booswig met die skerpgemaakte lem gesteek.

“Dié hond was ook intussen by die veearts wat sy wonde versorg en toegewerk het.”

vandag gaan ek jou doodmaak

Sers. Martin Xuma, woordvoerder van die polisie, het die voorval op Osborne bevestig.

Xuma sê sake van ernstige aanranding en liggaamskade, asook voertuigdiefstal, is geopen. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Nothnagel sê Osborne was die naweek alleen tuis omdat sy vrou by familie gaan kuier het. Hy het sy plaaswerkers Vrydag betaal en hulle sou nie Saterdag ingekom het nie.

“Dit was omstreeks 06:40 dat hy sy hond buite hoor blaf het. Hy is hierop na sy kantoor geloop wat sowat 10 meter van die huis af is.

“Daar het ’n vreemde man van ongeveer 25 jaar oud hom in die kantoor inwag. Die man het hom met ’n pylgeweer oorrompel toe hy daar instap. Die pylgeweer was Dick se pylgeweer wat in sy kantoor gestaan het. Dit word gebruik om visse mee onder die see te jag wanneer hulle gaan duik.

“Die man het glo herhaaldelik geskree: ‘Today I’m going to kill you!’ Die man het hierop vir Dick ses keer met ’n skerpgemaakte lem gesteek. Hy is onder meer in sy bors en rug gesteek.”

Nothnagel vertel die Australiese beeshond het toe ingespring en die aanvaller begin byt.

“Die booswig het hierop weggehardloop, wyl hy die hond met die pylgeweer afgekeer het. Hy het die hond ook drie keer met die skerpgemaakte lem gesteek.

“Die aanvaller het toe met Dick se voertuig, ’n Land Rover, gevlug en deur die plaashek wat gesluit was, gejaag. Hy het beheer oor die voertuig verloor, deur die drade gebars, teruggegaan pad toe en vandaar teen ’n boom gebots. Hy is toe verder te voet.”

Nothnagel sê Osborne het hom van die huis af gebel om te kom help. “Ek het die Land Rover wat nog geluier het langs die pad gekry. Sakke Voermol het orals gestrooi gelê. Ek het heeltyd geskree: ‘Dick waar is jy?’ Ek het hom toe gebel, waarop hy gesê het hy is by die plaashuis.

“Ek is na Dick, maar hy het lelik gebloei. Ek het hom in my bakkie getel en die ambulans ontbied. Ek het ook die ander boere op ons veiligheidsgroep laat weet om die paaie te sluit. Ons het later vir Dick in ’n ander bakkie oorgetel, waarop ’n ander boer met hom Mediclinic Bloemfontein toe gejaag het.

“Ek het op die plaas gebly waarheen die polisie ontbied is om vingerafdrukke te neem, wyl die honde-eenheid ook hul honde gebring het. Ons het ook ’n afstandbeheerde helikopter in die lug gebruik wat ’n kamera het om die aanvaller te soek.”

Bron: Netwerk24


 

Enjoyed this post? Share it!