Vanielje-crème brulee

Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 15 min.
Gaarmaak: 40 min.
Verkoel: 4 uur 

625ml (2½ k) room
6 eiergele
125 ml (½ k) strooisuiker
5 ml (1 t) vanielje-ekstrak
30 ml (2 e) bruinsuiker

  1. Voorverhit die oond tot 150 °C. Plaas 4 oondvaste bakkies of koppies in ’n groot roosterpan.
  2. Bring die room in ’n kastrol oor matige hitte tot prutpunt. Moet dit nie laat kook nie.
  3. Klits die eiergele, strooisuiker en vanielje-ekstrak saam in ’n bak tot goed gemeng.
  4. Klits die warm room geleidelik in die eiergeelmengsel in.
  5. Verdeel eweredig tussen die bakkies of koppies. Giet genoeg kookwater in die roosterpan dat dit tot by die halfpadmerk teen die kante van die bakkies of koppies kom.
  6. Bak 35 min. of tot net geset. Verwyder uit die oond, verplaas na ’n bakplaat en sit 30 min. eenkant om af te koel. Bedek met kleefplastiek en verkoel 4 uur in die yskas.
  7. Voorverhit die oondrooster op hoog.
  8. Strooi die bruinsuiker egalig oor die vla-poedings. Rooster 1-2 min. of tot die suiker borrel en karamelliseer.

Deur Hope Malau

Huisgenoot digitaal 30 Junie 2014


 

Enjoyed this post? Share it!