Vark-en kruiebroodbredie

Met hierdie eenpotmaaltyd sal jy minder skottelgoed hê om te was.

GENOEG VIR 6 MENSE
Bereiding: 15 min.
Gaarmaak: 2 uur 30 min.

45 ml (3 e) olyfolie
2 uie, in dik skywe gesny
2 wortels, in dik skywe gesny
1,5 kg stowe-varkvleis
sout en vars gemaalde peper
30 ml (2 e) meel
2 knoffelhuisies, fyn gedruk
60 ml (¼ k) tamatiepasta
750 ml (3 k) hoenderaftreksel
250 g sampioene, in skywe gesny
1 vars lourierblaar
Brode
375 ml (1½ k) bruismeel
’n hand vol pietersielie, gekap
sout en vars gemaalde peper
50 g botter, gekap
1 eier, liggies geklits
250 ml (1 k) melk

Voorverhit die oond tot 150 °C.

  1. Verhit 15 ml (1 e) olie in ’n groot oondvaste pot oor matige hitte. Voeg die uie en wortels by en braai 5 min. terwyl jy af en toe roer. Skep die groente op ’n bord uit.
  2. Sit die varkvleis in ’n groot bak en geur met die sout en vars gemaalde peper. Voeg die meel by, meng goed en bedek.
  3. Verhit die oorblywende olie in dieselfde pot. Voeg die helfte van die varkvleis by en verbruin sowat 5 min. of tot oraloor verbruin terwyl jy dit af en toe omdraai. Skep op ’n bord uit en herhaal met die oorblywende varkvleis.
  4. Sit die verbruinde varkvleis en verbruinde groente terug in die pot. Roer die knoffel en tamatiepasta by. Voeg die aftreksel, sampioene en lourierblaar by en bring tot kookpunt. Bedek met ’n deksel, plaas in die oond en bak 2 uur.
  5. Brode: Meng die meel, pietersielie, sout en vars gemaalde peper in ’n middelslag-bak. Voeg die botter by en vryf in tot die mengsel soos nat broodkrummels lyk. Maak ’n holte in die middel en voeg die eier en melk by.
  6. Roer tot net gemeng en ’n sagte, klewerige deeg vorm. Verhoog die oond se temperatuur tot 200 °C.
  7. Skep eetlepels vol deeg sowat 2 cm uitmekaar op die varkvleismengsel en bak 15 min. of tot deurgaar.

Deur Hope Malau
Foto: Jacques Stander

Huisgenoot 30 Mei 2016


 

Enjoyed this post? Share it!