Ventersdorp word ontsier met haatspraak op padtekens en mure

Die polisie in Ventersdorp ondersoek ’n saak van opsetlike saakbeskadiging nadat graffiti met haatspraak op padtekens en mure in dié dorp aangebring is.

Dit het Dinsdag verskyn nadat Black First Land First (BFLF)-ondersteuners ’n Steve Biko-dag bygewoon het.

Inwoners het Woensdag op sosiale media uitgevaar teen die graffiti, wat slagspreuke soos One Settler One Bullet en boodskappe soos F**k Whites insluit.

Hulle het onder meer op Facebook gesê dit is nou “tyd vir die nonsens om te stop” en dat dinge duidelik besig is om “handuit te ruk”.

Kapt. Amanda Funani, polisiewoordvoerder, sê sowat 500 mense het onder leiding van BFLF na ’n plaas in die omgewing opgetrek om Steve Biko-dag te vier en oor sy nalatenskap en lewe opgevoed te word.

Biko, ’n struggle-ikoon en stigter van die swartbewussynsbeweging, is op 18 Augustus 1977 in Port Elizabeth deur die polisie in hegtenis geneem. Hy is daarna van hoogverraad aangekla.

Biko is in polisieaanhouding gemartel, wat bloeding op sy brein veroorsaak het.

Hy is later na die gevangenis in Pretoria oorgeplaas, waar hy op 12 September 1977 dood is.

“Dinsdag se optog was ’n vreedsame byeenkoms en geen gevalle van geweld of intimidasie is by die polisie aangemeld nie,” sê Funani.

“Die groep mense het van die plaas na die dorp gestap, en sommige van hulle het pro-BFLF-graffiti op padtekens aangebring,” sê Funani.

Volgens haar was die byeenkoms in die dorp ook vreedsaam, maar sommige lede van die skare het graffiti op die muur van ’n plaaslike bank aangebring.

“Die polisie kan bevestig die betrokke bank het intussen ’n saak van opsetlike saakbeskadiging by die Ventersdorp-polisiekantoor aanhangig gemaak.”

Volgens Funani is die polisie besig om die saak te ondersoek, maar is dit moeilik om te bepaal watter lede van die skare die graffiti geskryf het.

Mogomotsi Tlhabanyane, voorsitter van BFLF in die Noordwes, en sy sekretaris, Kabelo Seagiso, het nie Woensdag op navrae vir kommentaar reageer nie.

Deur: Netwerk 24

1

2

3


Enjoyed this post? Share it!