Verdagte lag hardop in hof

Hofgangers was baie geskok toe een van die beskuldigdes in die moordsaak op die skryfster, Winnie Rust, hardop gelag het terwyl hy na hulle in die galery gekyk het.

Woedende uitroepe het gevolg op Johannes Plaatjies (34 jaar) se gelag pas na sy hofverskyning: “Jy dink dit is ‘n grap. Jy het mense se lewens opgemors,” het van hulle uitgeroep.

Hy het saam met Nigel Plaatjies (18 jaar) in die hof verskyn, en soos tydens vorige verskynings het mense woorde van bemoediging aan hom geskreeu om hulle ondersteuning aan hom te kenne te gee.

Die 18-jarige Plaatjies is ‘n oud-leerling van die Hoërskool Hugenote en is soos verskeie leerlinge van die skool geldelik deur Rust gehelp.

Haar eggenoot, dr. Manie Rust (87 jaar), het op 11 Mei op haar lyk in die kombuis van hul huis op Wellington afgekom. Hy is op die betrokke dag uit sy middagslapie gewek toe die hekklokkie gelui het. Toe hy terugkeer van die hek, het hy sy vrou dood op die kombuisvloer aangetref. Sy het gesigbeserings gehad en haar hande en voete was vasgebind.

Die saak is uitgestel tot 13 Junie wanneer albei beskuldigdes se regsverteenwoordigers met hul borgaansoek sal voortgaan.

Foto – Winnie Rust

Bron: Vryburger


Enjoyed this post? Share it!