Verdagte vas oor Schoenmakerskop-moorde

‘n Man sal Maandag vir die dubbele moord van ’n paartjie van Schoenmakerskop in die hof in Port Elizabeth verskyn, asook vir die moord op die opsigter van die Forest Hill-begraafplaas.

Inwoners van Port Elizabeth was einde September geruk deur dié twee aanvalle wat drie dae uitmekaar gebeur het.

’n 21-jarige man wat Woensdagmiddag in die landdroshof in Paterson, sowat 80 km buite Port Elizabeth, op ’n onverwante aanklag van ’n huisrooftog verskyn het, is by die hof vir die drie moorde aangekeer.

Die man word verbind met die moord op Ken Alexander (76), Elaine Allwright (78), en Tyrone Plaatjies (49).

Alexander en Allwright is in die vroeë oggendure van 26 September in hul huis in Marinerylaan in Schoenmakerskop deur rowers oorval.

Alexander se gesig was so erg vermink dat die polisie aanvanklik geglo het hy is in die gesig geskiet en weens die skietwond dood. ’n Lykskouing het egter getoon dat hy met ’n stomp voorwerp in die gesig geslaan is en dat dít die oorsaak van sy dood was.

Allwright is ook in die aanval met ’n stomp voorwerp aangerand, maar het daarin geslaag om te ontsnap en vir hulp by die bure te vra. Sy is in ’n plaaslike hospitaal opgeneem, maar sy is daar aan haar beserings dood.

Ná bykans ’n maand se ondersoek en R50 000 se beloning wat deur die Schoenmakerskop-gemeenskap vir inligting uitgeloof is, het die polisie die afgelope week ’n deurbraak gemaak.

Dit volg nadat ’n televisiestel en bebloede kledingstukke, wat vermoedelik aan die vermoorde paartjie behoort het, in ’n plakkershuis in die Walmer-townshop aangetref is.

Niemand was by die huis nie en die polisie het die items gekonfiskeer en bloedmonsters vir DNS-toetse weggestuur.

Skaars drie dae voor die aanval op die Schoenmakerskop-paartjie is Plaatjies in sy karavaan by die Forest Hill-begraafplaas aangeval en beroof.

Plaatjies en ’n vriend het wakker geword toe rowers die karavaan se deur afgebreek het.

Plaatjies is blykbaar herhaaldelik met ’n hamer geslaan voordat die rowers R50 gesteel het en met sy motor gevlug het.

Plaatjies is onderweg na die hospitaal dood.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, het nie veel uitgewei oor hoe die 21-jarige met die drie moorde verbind word nie. Sy het wel gesê nog inhegtenisnemings kan volg.

Sy sê die man sal Maandag in Port Elizabeth op drie aanklagte van moord en twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede in die hof verskyn.

Brig. Keith Meyer, onderbevelvoerder van die Mountweg-polisiegebied, het die speurders vir hul toewyding geloof. “Dit is altyd moeilik om ’n deurbraak te maak in ’n saak waar daar geen getuies is nie. Maar ons speurders het werklik 24 uur ’n dag gewerk om elke moontlike leidraad op te volg om die deurbraak te maak,” sê hy.


Enjoyed this post? Share it!