Verhoudings tussen gevangenisse en vrouebewaardes neem toe in SA

Dis nie ongekend dat vrouebewaarders ’n verhouding met manlike gevangenes aanknoop nie, sê prof. Christiaan Bezuidenhout, ’n kriminoloog aan die Universiteit van Pretoria.

“ ’n Meganisme soortgelyk aan Stockholm-sindroom kan ontwikkel wanneer die man die vrou goed behandel, ’n vriendelike verhouding tussen hulle ontstaan en die twee gereelde, rustige kontak het.”

Stockholm-sindroom is wanneer daar aangetrokkenheid tussen ’n ontvoerder en sy slagoffer/s ontstaan.

Bezuidenhout het gereageer op ’n onlangse foto wat ’n storm in die sosiale media ontketen het waarin ’n vrouebewaarder ’n manlike gevangene in die Losperfontein-gevangenis naby Brits in Noordwes soen.

Die bewaarder wat vermoedelik in die foto verskyn, het Maandag haar eie lewe geneem.

Bezuidenhout sê misdadigers is nie altyd “onooglike monsters nie”.

“Dis ook nie te sê die bewaarder was aanvanklik aangetrokke tot die gevangene nie. Soms manipuleer ’n gevangene personeel om hulle byvoorbeeld jammer te kry. Gevangenes in die tronk het, anders as gewone werkende mense, ook baie tyd om briefies en gediggies te skryf.

“So ’n verhouding pas vroue dikwels omdat hulle die gevangene kan sien wanneer dit hulle pas en omdat daar nie seksuele kontak is nie.

“Wanneer die gevangene vrygelaat word, verwag hy dikwels dadelik ’n volskaalse verhouding en verbrokkel die verhouding dan dikwels.”

Ons het die grootste tronkbevolking in Afrika en die negende grootste ter wêreld.

Bezuidenhout verduidelik ’n mens sien dié soort dinamiek ook dikwels deurdat vroue trou met mans wat langtermyngevangenisstraf uitdien. “In die VSA is daar webwerwe waar vroue met sulke misdadigers kan kommunikeer.”

In Suid-Afrika was daar ook sulke voorbeelde, byvoorbeeld toe die sogenaamde Skierlik-skieter, Johan Nel, wat mense naby Swartruggens afgemaai het, in 2012 in die Rustenburg-gevangenis met Maryna Naudé (toe 18) getrou het. Nel (toe 23) dien vier lewenslange vonnisse uit.

Bezuidenhout meen dis altyd ’n risiko om vroue in ’n manstronk te laat diens doen omdat van die misdadigers wat al lank sit en heteroseksueel is, opportunisties kan optree wanneer ’n vrou naby is.

“Boonop is daar personeeltekorte in ons tronke. Ons het die grootste tronkbevolking in Afrika en die negende grootste ter wêreld. Baie van ons gevangenes sit weens seksuele oortredings en geweldsmisdade.”

Bezuidenhout meen daar is baie moontlike faktore wat tot die bewaarder van Brits se selfdood kon gelei het.

“Die druk was waarskynlik net te veel. Sy het (glo) een van die grootste taboes met ’n gevangene gepleeg. ’n Mens kan net dink wat haar familie en kollegas sou sê. Kwetsende kommentaar op sosiale media en die gevoel van uitsigloosheid noudat sy waarskynlik haar werk sou verloor, kon haar verder oor die rand gestoot het.

“ ’n Mens weet ook nie of sy dalk in elk geval geneties geneig was tot depressie nie.”

Nxumalo het Dinsdag gesê hulle gaan steeds nie die vroulike bewaarder op die foto’s se naam bekend maak of sê waaroor die gevangene wat haar op die foto soen, skuldig bevind is nie. “Ons ondersoek die gebeure. Sulke verhoudings is ontoelaatbaar.”

Bewaarders

Net 2% van die gevangenes in Suid-Afrika is vroulik, sê Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste.

“Dis daarom onmoontlik om nie ook vrouebewaarders te gebruik waar mans aangehou word nie. Ons sorg egter altyd dat daar ook ’n manlike personeellid by is en dat personeel gereeld wissel sodat een vrou nie te lank in die geselskap van manlike gevangenes is nie.

“Wanneer mans diens doen waar vrouegevangenes aangehou word, werk hulle meestal in die ontvangs- of administratiewe deel om kontak met die vroulike gevangenes te vermy.”

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!