Verkragklag: Hooflanddros van Bloemfontein word geskors deur minister

Die hooflanddros van die Bloemfonteinse landdroshof is voorlopig geskors nadat ’n 42-jarige vrou ’n klag van verkragting teen hom by die minister van justisie ingedien het.

Adv. Michael Masutha, minister van justisie, sê in ’n skorsingsverslag Mziwonke Hinxa, die hooflanddros, se skorsing tree dadelik in werking en hy bly geskors tot die afhandeling van ’n ondersoek na en tugverhoor oor sy geskiktheid om ’n landdros te wees.

Hinxa ontken die bewering van verkragting teen hom.

Hy gaan hom op 12 Desember met ’n aansoek tot die hooggeregshof in Pretoria wend om sy voorlopige skorsing tersyde te stel.

“Die valse bewerings teen my is ongegrond, onsmaaklik en kwaadwillig.”

Hinxa sê hy het ’n verklaring waarin die vrou erken ’n bekende prokureursfirma in Bloemfontein het haar R100 000 betaal om die valse klag teen hom aanhangig te maak.

Die Landdrostekommissie het bevind die bestaande getuienis teen Hinxa is so ernstig dat dit onvanpas is dat hy in sy pos aanbly terwyl dit ondersoek word.

“Hinxa se beweerde optrede bevlek die goeie naam en waardigheid van die pos van landdros en die toepassing van die reg.”

Die kommissie sê die getuienis teen Hinxa is so ernstig dat dit sy ontslag sal regverdig as hy aan wangedrag skuldig bevind sou word.

Die kommissie sê die getuienis teen Hinxa is so ernstig dat dit sy ontslag sal regverdig as aan wangedrag skuldig bevind sou word.

In die skorsingsverslag sê Masutha dit blyk dat die vrou die beweerde verkragting in Hinxa se woonstel in Bloemfontein verskeie kere by verskillende polisiekantore aangemeld het. Die polisie het geweier om haar klag te ondersoek.

Sy het ook by die departement van openbare vervolging (DOV) in die Vrystaat ’n bloutjie geloop. Die DOV het geweier om te vervolg, blykbaar omdat die ondersoek nie voltooi was nie en ook omdat ’n beweerde verklaring van die klaagster dat sy die klag terugtrek, ingedien is.

Die vrou ontken ten sterkste dat sy dié verklaring afgelê of geteken het. Dit is nie haar handtekening nie.

Die Landdrostekommissie het in belang van geregtigheid die uitslag van sy voorlopige ondersoek, bykomende verklarings en die polisiedossier na die nasionale direkteur van vervolging gestuur met die aanbeveling dat die saak heroorweeg word en die nodige stappe gedoen word.

Die kommissie het bevind Hinxa se voorleggings oor hoekom hy nie geskors moet word nie, berus hoofsaaklik op die Vrystaatse DOV se besluit om hom nie strafregtelik te vervolg nie.

Getuienis uit die voorlopige ondersoek dui egter aan dat daar wel genoeg getuienis is om hom van wangedrag aan te kla.

Deur: Netwerk 24
<hr

Enjoyed this post? Share it!