Verkragter in Kleinskool word gedood nadat gemeenskap hom in die hande kry

Ja, ek rape’ toe sterf hy -Gisteroggend het dinge lelik en vinnig skeefgeloop toe die gemeenskap die man, wat bekend is as “Ace”, met groot klippe gegooi het.

Binne minute was sy kop en klere bedek met bloed en selfs aunties met stokke het hom agterna gejaag.

“Brand hom! Hy ­verdien dit!” het iemand toe uit die bondel geskree. “Bring die paraffien!”

1

Die oorledene het oor die pad gehardloop in ’n poging om weg te kom van die moerige crowd. Daar het hy weereens neergeval en binne sekondes is hy aan die brand gesteek.

Omstanders het toegekyk hoe die bebloede man lewend brand.

Die polisie en brandweerdiens het daar aangekom nadat hy al oorlede is.

Intussen is die jong meisie se lewe omvergegooi en sy is nog in skok. Sy vertel wat Sondagaand gebeur het: “Ek en my boyfriend het huis toe gestap en ek’t naby die huis vir hom gesê dis fine, hy kan maar weer terugdraai.

“Skielik, toe kom ’n ou, ek weet nie van waar af nie, en dreig my met sy gun.”

Dit was toe al donker en hy’t gesê hy sal haar skiet as sy skree. “Ek’t saam geloop en hy’t gesê hy like my en hou my al ’n ruk dop. Ek’t vir hom gesê my familie gaan begin wonder waar ek is, maar hy’t gesê ek moenie worry nie.

“By sy huis het hy kwaad geraak omdat my klere nie maklik wou uittrek nie. So, hy het dit losgeruk en homself op my forseer. Hy het my heeltyd gedreig om nie te skree nie,” sê sy in trane.

Dit was rondom 20:45 Sondag. “Toe hy klaar is, het hy gesê ons moet nou slaap en later gaan hy weer ’n stukkie vat. Toe raak hy aan die slaap en ek bedink ’n plan om daar uit te kom.”

Teen 23:00 het die meisie ontsnap en huis toe gehardloop.

Haar hele gesin was ontsteld en het aanhoudend die polisie gebel, maar sonder sukses.

Die verkragtingslagoffer se broer het in Son se teenwoordigheid gisteroggend sy suster se verkragter by hul huis ingesleep.

Toe Son met die rapist praat, sê hy: “Ja, ek het haar verkrag en ek voel sleg daaroor.”

Die moerige gemeenskap het toe buite saamgedrom om hom beet te kry. Hy’t aan Son gesê om die polisie te bel. Toe hy sy voet buite die shack sit, het die geweld begin.

3

Op die doodstoneel het ’n 25-jarige vrou beweer sy is op 19 deur dieselfde man verkrag. “Hy het my gegryp en met ’n gun gedreig en my verkrag in daai drein. Ek’t nooit ’n saak oopgemaak nie, want ek was te bang hy skiet my,” het sy saggies gesê.

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, ’n polisiewoordvoerder, het gesê die eenheid belas met gesinsgeweld, kindersbeskerming en seksuele misdrywe ondersoek ’n verkragtingsaak waarin ’n 19-jarige meisie na bewering verkrag is deur ’n bekende persoon in Kleinskool.

2

“Die bewering dat die SAPD nie gereageer het op die klaer se saak nie, word in ’n ernstige lig beskou, veral met die misdade teen vroue, ­kinders en bejaardes.

“Dié saak sal deeglik ondersoek word en die Bethelsdorp-SAPD se stasiebevelvoerder, brig. Zolani ­Xawuka, gee sy persoonlike aandag aan dié klag.”

Bron: Son


 

Enjoyed this post? Share it!