Vermeende kardioloog met vervalste kwalifikasies het nie eers Graad 12

’n Jong vrou van Krugersdorp wat nie eens matriek voltooi het nie, maar vir ’n pos as kardioloog by die Polokwane Provinsiale Hospitaal aansoek gedoen het, is nou agter tralies.

Mariah Lebo Mokgobu (20) is verlede Vrydag in die streekhof in Polokwane tot drie jaar gevangenisstraf weens bedrog gevonnis.

Kapt. Matimba Maluleke, woordvoerder van die Valke in Limpopo, sê Mokgobu is met vonnisoplegging nie die opsie gegee om ’n boete te betaal nie.
Sy is in Junie verlede jaar deur die Valke by die departement van gesondheid se kantore in Polokwane in hegtenis geneem.

Mokgobu het aansoek gedoen om ’n pos as kardioloog by die Polokwane Provinsiale Hospitaal. Sy het beweer dat sy ook by ’n private hospitaal in die stad aansoek gedoen het om as kardioloog te praktiseer. Die hospitaal, wat nie hul naam aan die voorval wil koppel nie, het die bewerings as onsin afgemaak.

Maluleke sê amptenare by die departement van gesondheid het onraad vermoed toe hulle Mokgobu se dokumente met haar “kwalifikasies” nagegaan het.
Daar is toe gevind dat sy ’n vervalste sertifikaat van ’n mediese instelling in Amerika ingedien het. Dit is steeds ’n raaisel waar sy die sertifikaat gekry het.

Amptenare van die departement van gesondheid het boonop uitgevind dat Mokgobu nie eens gr. 12 voltooi het nie.

Die Sowetan het berig haar pa is ’n pastoor van Kagiso aan die Wes-Rand. Frans Mokgobu van die New Bethlehem Apostolic Church was geskok toe hy hoor sy dogter het voorgegee om ’n dokter te wees. Volgens hom wou sy altyd graag ’n verpleegster word.

Sy het voor die slenter in Mokopane (Potgietersrus) gebly.


Enjoyed this post? Share it!