Vermiste fietsryer van Pretoria vermoor tydens oggendrit

Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die moord op Cecil du Toit, ʼn rekenaarspesialis van Pretoria wat vandag 51 jaar oud sou word, nie.

Du Toit is Sondagoggend as vermis aangemeld toe hy nie na sy huis in Swartkops in Centurion teruggekeer het nie nadat hy met sy bergfiets gaan ry het.

“Sover ons kan vasstel het hy omstreeks 08:00 sy huis verlaat. ʼn Verbyganger het omstreeks 13:00 op sy liggaam afgekom in die stuk veld tussen die Irene-treinstasie en die reservoir agter die Irene Farm Village,” het kapt. Dave Miller, polisiewoordvoerder, Dinsdag aan Maroela Media gesê.

Du Toit is geskiet en van sy fiets en persoonlike besittings beroof. Dit is in dié stadium nie bekend hoeveel aanvallers by die voorval betrokke was nie.

Die Lyttelton-polisie ondersoek ʼn saak van moord. “Die polisie is tans besig om talle leidrade op te volg en ons hoop om vinnig ʼn inhegtenisneming te doen.”

Hy laat sy vrou, Caren, kinders en sibbe agter.

Deur: Maroela Media


Enjoyed this post? Share it!

 
  • maggie

    Ek en Cecil het n verjaarsdag gedeel. Ek is baie jammer wat met jou gebeur het. Mag jy in vrede rus en jou vrou kinders en familie vrede vind my broer. Die land is mooi in sy m**r en tax betalers betaal daarvoor met hulle lewens.