Vermoorde ANC speaker het doodsdreigemente ontvang voor dood

Haar kantoor het enkele weke gelede ’n doodsdreigement ontvang.

Thozama Njobe, speaker van die Raymond Mhlaba-munisipaliteit in die Oos-Kaap, is Maandag omstreeks 22:40 op kort afstand geskiet toe sy van ’n byeenkoms in Fort Beaufort teruggekeer het.

Sy is in die bolyf gewond en is met haar aankoms by die hospitaal dood verklaar, sê kol. Sibongile Soci, provinsiale polisiewoordvoerder, in ’n verklaring.

Luidens die verklaring wil die polisie nie oor die motief vir die moord bespiegel nie, maar sal speurders “dag en nag” werk om inligting op te volg.

Oscar Mabuyane, provinsiale sekretaris van die ANC, het aan News24 gesê ’n vreemdeling het twee of drie weke gelede by Njobe se kantoor aangekom en aan haar kollegas gesê hy is gehuur om haar te vermoor.

Njobe was in daardie stadium by die ANC-beleidskonferensie in Johannesburg.

“Soms glo ons nie hierdie goed nie, maar ons het die polisie daaroor ingelig,” sê Mabuyane.

Fikile Xasa, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, sê in ’n verklaring hy het met hartseer van die “sinlose” moord op Njobe verneem, en sy medelye met haar geliefdes betuig.

Die DA se Nomvano Zibonda en Ross Purdon het Njobe se dood in ’n gesamentlike verklaring betreur. “Sy was ’n stryder teen korrupsie en dit het dalk tot haar dood gelei,” aldus die verklaring. “Sy sal vir haar moed onthou word.”

Die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty (SAKP) in die Oos-Kaap het ook sy skok en medelye uitgespreek.

“Ons veroordeel dié afskuwelike daad, wat soos ’n sluipmoord voorkom, en hoop dat dit nie deel van faksiegevegte in die ANC is nie. Ons provinsie is nog altyd gekenmerk deur ’n kultuur van politieke verdraagsaamheid, en dit moet só bly,” sê Siyabonga Mdodi, provinsiale woordvoerder van die SAKP.

* ’n ANC-kandidaat vir die munisipale verkiesing in Nelson Mandelabaai, Nceba Dywili, is so te sê amper ’n jaar gelede in Zwide doodgeskiet toe hy sy vriendin by haar huis daar opgelaai het.

Bron:  Netwerk 24
Skrywer: Odette Parfitt


Enjoyed this post? Share it!