Vermoorde boer Dries Botha nog nie begrawe oor lykshuis-chaos

Die begrafnisdiens vir ’n boer van Noordwes wat vroeër vandeesmaand deur sewe aanvallers vermoor is, moet onbepaald uitgestel word weens die chaos by Gautengse lykshuise.

Dries “Bloubul” Botha (58) is Sondagmiddag per helikopter na die Milpark-hospitaal in Johannesburg vir ’n noodoperasie gehaas nadat hy op sy plaas Klipkop, sowat 20 km buite Brits, oorval en vyf keer geskiet is.
Hy het die operasie nie oorleef nie en sy familie het aanvanklik beplan om hom Vrydag te begrawe.

Johan de Winnaar, die begrafnisondernemer wat sy begrafnis sou behartig, het egter Donderdagaand bevestig die diens kan nie voortgaan nie.
Dit is omdat die staking by Gautengse lykshuise ’n groot agterstand in die voltooiing van lykskouings gelaat het.

“Dries se ander swaer, Tobie Stopforth, het drie dae by die lykshuis in Hillbrow gesit om tevergeefs antwoorde te probeer kry. Dit is nou skaakmat en daar is niks meer wat ons op die oomblik kan doen nie,” het Kobus van Rensburg, wat met Botha se vrou, Drieka, se dogter getroud is, Donderdagaand gesê.

“Dinge is bloot uit ons hande en ons het geen klaarheid oor die situasie nie. Ons weet nie wanneer ons uiteindelik Dries se liggaam sal kry nie, wat ons genoodsaak het om die diens onbepaald uit te stel.”

Volgens die familie is daar minstens 90 ander lyke waarop lykskouings gehou moet word en het die betrokke lykshuis glo ’n agterstand van tussen drie en vier weke.

“Ons het met hulle probeer onderhandel, maar die feit van die saak is ons kan Dries nie begrawe voor ons sy liggaam het nie. Dit help seker nie om beskuldigings rond te gooi nie, maar dit is vir ons as familie moeilik om berusting te kry voor hierdie saak afgehandel is.”

ONS WEET DIE HOFSAAK LÊ NOG VOOR EN HET GEHOOP DIE BEGRAFNIS SAL ONS TOELAAT OM ’N MATE VAN AFSLUITING TE KRY SODAT ONS KAN VOORTBEUR, MAAR DINGE IS NOU BAIE MOEILIKER.

Volgens Van Rensburg sal die familie probeer om Dries se oorskot na ’n lykshuis in Noordwes te laat oorplaas indien hulle teen Vrydag of Maandag nog nie klaarheid het nie.

“Dries het vir baie mense werk geskep en as hy nie so hard geveg het nie, het die boosdoeners dalk ook sy vrou in die plaashuis aangeval,” het Van Rensburg gesê.

“Dit is vir my baie erg om te dink dat daar soveel wetteloosheid en rigtingloosheid is dat mens jouself in so ’n situasie kan bevind. Die land is duidelik besig om te sink.”

Volgens hom sal Drieka (53) waarskynlik nie met die boerdery kan voortgaan nie, wat talle werkers sonder heenkome sal laat.

“Hoe vertel jy aan ’n jong meisie haar oom is by sy woonplek doodgeskiet? Dries was ’n baie goeie ou, gesinsman, werkskepper en geliefde lid van die gemeenskap wat probeer het om iets met sy lewe te bereik,” het Van Rensburg gesê. “Wat gebeur het, was heeltemal onnodig.”

“Ons probeer al heelweek tevergeefs antwoorde kry,” het Stopforth Donderdag gesê. “Geen dood is maklik nie, maar hierdie situasie is gekompliseerd.
“Ons weet die hofsaak lê nog voor en het gehoop die begrafnis sal ons toelaat om ’n mate van afsluiting te kry sodat ons kan voortbeur, maar dinge is nou baie moeiliker.”

Botha word benewens sy vrou deur sy drie volwasse kinders, Marié, Adélle en Dries, asook drie kleinkinders oorleef.

“Hulle het nog baie seer, veral ná wat nou besig is om te gebeur,” het Leon Basson, ’n familievriend, Donderdag gesê.

Volgens hom is daar geen aanduiding wanneer die familie Botha se oorskot sal kan opeis nie.

Prince Hamnca, woordvoerder vir die Gautengse departement van gesondheid, kon nie Donderdag onmiddellik kommentaar gee nie, maar het onderneem om die saak namens die familie op te volg.

Bron: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!