Veroordeelde bedrieër Shaik: ‘Ek sal teen Zuma getuig’

Schabir Shaik, veroordeelde bedrieër en voormalige finansiële adviseur van pres. Jacob Zuma, het ná die president se mislukte appèl Vrydag gesê hy sal teen hom getuig as ’n hof hom dagvaar.

Shaik wou Sondag nie veel uitbrei nie, buiten om te sê dat “as ’n hof enige Suid-Afrikaner in ’n lasbrief dagvaar om in die hof te verskyn of te getuig, kan jy nie nee sê nie. As landsburger, sal ek verplig te wees om aan die hofbevel gehoor te gee. Dit is al wat ek oor hierdie kwessies sal sê.”

Zuma en die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het in die appèlhof in Bloemfontein geappelleer teen ’n bevinding verlede jaar in die hooggeregshof in Pretoria oor die spioenasiebandesage en of hy wel op aanklagte van korrupsie, bedrog, geldwassery en afpersing tereg moet staan. Baie van die klagtes spruit uit Zuma se handelinge met Shaik.

Shaik is in 2005 tronkstraf van 15 jaar opgelê weens sy verhouding met Zuma. Hy is tans op mediese parool nadat hy net ’n paar maande van sy vonnis uitgedien het.

Weekend Argus het Sondag berig dat Shaik in ’n onderhoud aan dié koerant gesê het dat hy nie uit weerwraak teen Zuma sal getuig nie. Hy sal deur sy “gewete” gelei word en “die geleentheid verwelkom om sekere aspekte van my verhouding en handelinge met die president in perspektief te plaas waarvoor ek nie voorheen die geleentheid gehad het nie”.

Opposisiepartye het ná Vrydag se appélhofuitspraak daarop aangedring dat adv. Shaun Abrahams, nasionale direkteur van openbare vervolgings, Zuma weer moet aankla.

Die DA het Abrahams tien dae gegun om daaroor te besluit.

Zuma het Vrydag in ’n verklaring aangedui dat hy dalk weer voorleggings aan Abrahams gaan maak oor waarom die aanklagtes teruggetrek moet word.

Intussen het City Press ook Sondag berig dat hooggeplaaste bronne in die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en die veiligheidsektor aangedui het dat Zuma se vervolging “hoogs onwaarskynlik” is en dat prosesse voor dit “minstens vier jaar kan duur”.

Luidens dié koerant is een van die groot struikelblokke die feit dat adv. Billy Downer, wat aanvanklik die vervolging van Zuma sou gelei het, nie meer deel daarvan sal wees nie. Die rede is glo omdat hy ’n beëdigde verklaring geskryf het ter ondersteuning van die DA se agt jaar lange hofaansoek om die klagtes weer teen Zuma ingestel te kry.

’n Nuwe span aanklaers sal dus nou aangestel moet word indien Abrahams sou besluit om Zuma te vervolg.

Intussen het Mmusi Maimane, die DA-leier, Sondag in ’n verklaring namens sy party herhaal dat Zuma uiteindelik sy dag in ’n hof sal kry en verhoor moet word.

“Ná agt jaar se vertragingstaktieke het die tyd aangebreek dat Zuma verhoor word en antwoord op die klagtes wat reeds ’n dekade gelede geformuleer is,” het Maimane gesê.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!