Vervolging van #SwartMaandag boere kan verhouding met polisie skaad

Daar is met die uiterste misnoeë kennis geneem dat daar vervolging ingestel word teen beweerde organiseerders van die sogenaamde Swart Maandag protesoptogte in die Limpopo provinsie.

In Warmbad is mnr. Pieter Wagner aangesê om by die polisiekantoor aan te meld, waar hy aangekla is en waar sy vingerafdrukke geneem is asof hy ‘n misdadiger van die ergste graad sou wees. Soortgelyke vervolgings is ook op ander plekke ingestel.

“Daarteenoor het die dieselfde polisiekantoor van Bela Bela nie gereageer op ‘n oproep om hulp skuins voor drie vanoggend nie, toe ‘n plaasaanval in proses was by Droogekloof. As dit nie vir die gemeenskap was wat daar gaan help het nie, sou beslis meer as die boer se twee honde dood gewees het. Hulle is vergiftig,” sê mnr. Henk van de Graaf, streeksvoorsitter van TLU SA Noord.

“Dit is ontstellend dat die polisie wel tyd het om vreedsame boere, wat bekommerd is oor hulle veiligheid, hulle misnoeë openbaar maak, maar steeds is die polisie onwillig of het hy nie die vermoë om boere te beskerm nie, soos in die Warmbad geval en ook in die geval op Naboomspruit waar die eienaars van Paradise Lodge aangeval is deur nie minder nie as agt verdagtes,” sê mnr. Van de Graaf.

“Daar moet besef word dat die boere in baie gevalle die rugsteun is van Gemeenskap Polisiëring Forums (GPF), en dus reeds hulle goeie wil bewys het om saam met die polisie te werk. Waar boere skynbaar egter gedwing word deur hierdie vervolgings om te kies tussen hulle lojaliteit aan die polisie of aan hulle medeboere, gaan hulle eerder lojaal teenoor mede-landbouers wees. Dit kan goeie verhoudings met die polisie skaad. Dit is bloot nie aanvaarbaar dat die polisie skuil agter ‘n wet op openbare byeenkomste, terwyl die byeenkomste vreedsaam was, sonder dat ‘n enkele klip gegooi is, of daar bande gebrand of winkels geplunder is nie.”

Mnr. van de Graaf sê hulle sal genl. Scheepers se oproep om swak dienslewering van polisielede te rapporteer, ernstig opneem, en ‘n klagte gaan teen die Warmbad polisiekantoor gelê word omdat hulle nie ‘n plaasaanvaltoneel besoek het nie.

Intussen moet boere weer eens besef dat hulle op hulle eie aangewese is rakende veiligheid, en dat hulle moet in plaaswagte moet mobiliseer asof daar ‘n volskaalse noodtoestand heers.

Dr. Pieter Groenewald het die saak met die minister en kommissaris van polisie opgeneem. Hy sê die VF Plus was onder die indruk dat die aksie die minister se goedkeuring gehad aangesien hy vooraf daarvan bewus was en geen waarskuwing gerig het nie. “Dit is duidelik dat hierdie optrede teen die boere die gevolg is van politieke druk op die minister.”

Foto: Die gebedsaksie op die N1n aby warmbad waarvoor mnr. Pieter Wagner nou vervolg word

Deur: Die Vryburger


Enjoyed this post? Share it!