Verwaarlosing van gestremdes

In vier sale lê 73 verstandelik gestremde mense op kaal matrasse.

Daar is geen bedkassies of lakens nie en feitlik geen medisyne nie. Die pasiënte het elk net ’n enkele kombers.

Dit is die situasie wat Rapport die afgelope week teëgekom het by Siyabadinga, ’n nieregerings­organisasie naby Cullinan in wie se sorg erg gestremde pasiënte beland het nadat hulle deur die staat uit die Cullinan-sorg-en-rehabilitasiesentrum verskuif is.

 Die pasiënte is summier as private pasiënte geklassifiseer.

Die 73 gestremdes, tussen 17 en 84 jaar oud, is net ’n paar van die honderde in Gauteng wat sonder waarskuwing uit staatsinrigtings ontslaan is en nou van organisasies soosSiyabadinga afhanklik is.

Hulle was almal voorheen staatspasiënte.

Die skuiwe is veroorsaak nadat die departement sy kontrak met vier private Life Esidimeni-hospitale, waar 2 000 verstandelik gestremde pasiënte versorg is, beëindig het om geld te bespaar.

Die pasiënte wat voorheen in die Cullinansentrumversorg is, moes toe skuif om vir die Life-pasiënte plek te maak. Hulle is “oorgeplaas” sonder pasiëntelêers of ’n bewys van ontslag.

Die Gautengse departement van gesondheid sê die families is in kennis gestel van die verskuiwings, maar die families ontken dit. “Ek het gebel om te hoor hoe dit met my kind gaan en toe hoor ek hy is verskuif,” vertel ’n ouer wie se kind nou by Siyabadinga is.

“Die mense is nie in staat om hulself te versorg nie en kan ook nie tuis versorg word nie,” sê die familielid.

EK DINK GLAD NIE DIE DEPARTEMENT VAN GESONDHEID HET ENIGE BEPLANNING GEDOEN NIE.
Familielid van pasiënt

Die departement sê al die organisasies waarheen pasiënte verskuif is, het lisensies, maar Cassey Chambers, operasionele direkteur van die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag) sê dit is die uitsondering as hulle dit het.

Siyabadinga doen sy bes, maar dit is ’n stryd sonder toerusting en geld. Daar is net een wasmasjien en net een stoof met twee potte.

Siyabadinga kry kos by Woolworths wanneer produkte se vervaldatum verstryk het om die bie­tjie wat gekoop kán word, aan te vul. Hulle word behandel “soos honde wat van kant gemaak moet word”, sê ’n familielid van een van die pasiënte. Diane Noyile, bestuurder van ­Siyabadinga, sê sy en haar personeel werk sonder betaling of bydraes van die staat.

Nompilo Nkosi se broer is na die Cullinan-sentrum verskuif.

Dit is 100 km van haar af en nou kan sy nie meer by hom gaan kuier nie, sê sy.

Sy sê van die pasiënte by dié sentrum loop kaal, slaap op die vloer en word nie gewas nie.

Sy sê die departement het in Januarie by sy vorige hospitaal aan die families gesê hulle gaan nie meer “geld vermors” aan geestesversteurde pasiënte nie.

“Ek dink glad nie die departement van gesondheid het enige beplanning gedoen nie,” sê ­Nomvula Nonjeabe, wie se suster na die Goitsemodimo-sorgsentrum, ’n niewinsgewende organisasie in Fochville, verskuif is.

Die families van Siyabadinga se pasiënte het net lof vir die organisasie, maar beskuldig die departement van irrasionele besluite.

Nadat die pasiënte aanvanklik in die vier sale gehuisves is, het dr. Makgabo Manamela, direkteur van verstandelike gesondheid by die Gautengse departement van gesondheid, ’n week gelede daar opgedaag en beveel dat die 73 pasiënte voortaan in net twee sale mag bly om plek te maak vir nóg pasiënte.

Sy wil hê daar moet 50 pasiënte per saal wees. Die pasiënte se families het toe self die pasiënte na die vier sale teruggeskuif.

Net 16 van die 73 pasiënte by
Siyabadinga kry ’n maandelikse staatstoelae van R1 500 en Noyile moet dit rek om vir almal te sorg.

Volgens dr. Mvuyiso Talatala, psigiater en voorsitter van die Suid-Afrikaanse Psigiatriese Vereniging (Sasop), bly mense wat deur die staat onbevoeg geklassifiseer word om hulself te versorg weens ernstige verstandelike gestremdheid, die staat se verantwoordelikheid.

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van gesondheid, sê hulle het al die persele waarheen pasiënte verskuif is, ondersoek en verseker almal is goed toegerus.

Netwerk 24


 

Enjoyed this post? Share it!