VF Plus maak plan om misdaad en plaasmoorde in die provinsie suksesvol te bekamp

ʼn Gesprek tussen die VF Plus en die leierskap van Gauteng oor misdaad en plaasmoorde het ʼn positiewe uitvloeisel gehad en daadwerklike planne van die VF Plus om die probleme met gesamentlike aksies aan te spreek, is in beginsel aanvaar en die onderneming is van regeringskant gegee dat dit so uitgevoer gaan word.

Die VF Plus is verteenwoordig deur dr. Pieter Groenewald, leier van die party, en mnr. Philip van Staden, VF Plus-LPW vir Gauteng. Die premier van Gauteng, David Makhura, is vergesel van die provinsie se LUR vir gemeenskapsveiligheid, Sizakele Emelda Nkosi-Malobane, asook ʼn senior polisiebestuurspan wat die adjunk-provinsiale kommissaris ingesluit het.

Die VF Plus het onder meer voorgestel dat die publiek betrek word by ʼn skakelkomitee tussen die gemeenskap, die premier se kantoor en die LUR om sodoende ʼn breë front teen misdaad te vorm.

Die LUR het hiertoe ingestem en bevestig dat dit deel van haar toekomstige misdaadbestrydingstrategie sal vorm.

VF Plus sê in ‘n verklaring wat na die tyd uitgereik is, dat in nog ʼn belangrike stap het die premier saamgestem dat spesiale eenhede nodig is om landelike beveiliging doeltreffend toe te pas en dat spesiale aandag gegee moet word aan brandpunte soos Muldersdrif en Kameeldrift.

“Die premier het ook bevestig hy verstaan waarom die VF Plus groot klem op landelike beveiliging lê aangesien hy die belangrikheid van voedselsekerheid deeglik besef.”

Nkosi-Malobane het gevra dat die gesprek reeds in Januarie 2018 hervat word waar die VF Plus insette op die tafel sal plaas om uitvoering aan die voorstelle te gee om sodoende misdaad en plaasmoorde in die provinsie suksesvol te bekamp.

Daar is ook ooreengekom dat al die betrokke partye wyd sal konsulteer met die gemeenskap op grondvlak om hul insette oor die aangeleentheid te verkry.

VF Plus het die vergadering as “uiters positief” beskryf. “Ons almal is dit eens dat dinge nie kan aangaan soos wat tans die geval is nie en dat ons as leiers die verantwoordelikheid moet neem om werkbare planne op die tafel te plaas in belang van die publiek se veiligheid.

“Misdaad, en veral moord is ‘n groot probleem en het ‘n uiters negatiewe uitwerking op almal se lewe. Dit is tyd vir ons as leiers, aan beide kante van die tafel, om op te tree en aksie te neem,” het dr. Groenewald en mnr. Van Staden na die gesprek gesê.

Intussen het die minister van polisie belowe dat hy die week nog ‘n gesprek met TLU SA sou hê oor die vlaag plaasaanvalle. Hy het egter nie met ‘n datum vorendag gekom nie en TLU SA wag steeds dat hy sy belofte sal nakom.


Enjoyed this post? Share it!