Visserman se keel afgesny langs Vaalrivier – Hoofstroom media swyg oor moorde op ons volksmense

Boodskappe van meegevoel het in sosiale media ingestroom oor die dood van ’n man van Krugersdorp ná ’n uiters gewelddadige aanval op hom, sy vrou en nog ’n egpaar langs die Vaalrivier.

Freddie Barnard (52) is Maandagaand in ’n Bloemfonteinse hospitaal dood. Hy het ’n skedelbreuk en bloeding op die brein opgedoen en sy keel is oopgesny.

Drie aanvallers met klapmusse het ook probeer om Barnard se vriend se keel af te sny.

Die twee egpare is omstreeks 18:30 aangeval terwyl hulle by Rand Water se terrein visgevang het.

“Hulle is erg aangerand, van hul besittings beroof en bewusteloos gelaat,” sê kapt. Livhuhani Hani, ’n polisiewoordvoerder.

Een van die vroue het daarin geslaag om die ander drie, wat bewusteloos was, in die motor te laai en hulle na die Fezi Ngubentombi-hospitaal in Sasolburg te haas.

Barnard is Saterdagaand met ’n vliegtuig na ’n hospitaal in Bloemfontein geneem.

Die polisie in Viljoensdrift ondersoek klagte van roof en moord en is op soek na drie verdagtes. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Die polisie kon nog nie die name van die slagoffers bekend maak nie.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!