Vliegtuig by OR Tambo Internationaale Lughawe voorgekeer om man in hegtenis te neem

ʼn Vliegtuig wat Woensdag op pad was om by die OR Tambo Internasionale Lughawe op te styg, moes op die nippertjie omdraai en na sy parkeerplek terugkeer sodat ʼn man wat aan boord was in hegtenis geneem kon word.

Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, het gesê twee speurders van die SAPD het lugvaartveiligheidspersoneel omstreeks 15:00 ingelig dat ʼn man wat van voertuigdiefstal verdink word aan boord die vliegtuig op pad na Harare was.

Die verdagte word al sedert 2014 deur die polisie gesoek nadat hy na bewering ʼn voertuig gehuur en dit nooit terugbesorg het nie.

“Die lugvaartveiligheidspersoneel het die lugredery deur die lughawebestuursentrum gekontak en in kennis gestel.
Die vliegtuig het daarna teruggekeer na sy parkeerplek nadat die betrokke protokol gevolg is,” het Naidoo gesê.

Polisiebeamptes en lugvaartveiligheidspersoneel het aan boord die vlug gegaan en die man in hegtenis geneem.

Naidoo het gesê die inhegtenisneming vorm deel van die polisie se nuwe hersiene ingrypingstrategie rondom veiligheid by die lughawe.

Die SAPD, Ekurhuleni-metropolisie, ander wetstoepassingsagentskappe, die lughawebestuur van OR Tambo en
regeringsdepartemente het kragte saamgespan om die hoë aantal misdaadvoorvalle in en rondom die lughawe hok te slaan.

“Om seker te maak daar is geen hindernisse met betrekking tot die samewerking tussen ons nie, is ʼn belangrike element van die strategie, en hierdie voorval is ʼn bewys daarvan dat ons nou beter op kriminele bedreigings kan reageer,” het Naidoo gesê.

Deur: Maroela Media


 

Enjoyed this post? Share it!