‘Voel soos gruwelfliek’, sê slagoffer na huis aan die brand gesteek is

Ek is net dankbaar ons almal leef nog, maar ek vermoed hierdie voorval was meer as ’n kamtige roof.

Die een oomblik het hy nog fliek gekyk en die volgende oomblik het hy gevoel of hy in ’n gruwelfliek is, sê ’n inwoner van ’n huis in Koedoeweg in Port Elizabeth oor ’n voorval waarin gemaskerde mans brandstof in die huis gegooi en dit aan die brand gesteek het.

Die man, wat uit vrees nie sy naam genoem wil hê nie, se hande het Donderdagoggend van skok gebewe terwyl hy vertel het hoe gewapende mans hom en ander inwoners van die huis Woensdagaand oorval het.

“Ek het in my kamer fliek gekyk toe ek die gekap aan die motorhuisdeur hoor,” sê die inwoner.

“Ons het ’n winkel by die huis en ek het aangeneem iemand wil dringend iets koop.”

Kort nadat die gekap stil geword het, het ’n man met ’n masker by sy kamer ingebars.

“Ek is aangesê om buite op die toegeboude stoep langs die ander mense van die huis op my maag te gaan lê.”

Die mans het almal maskers oor hul gesigte gehad en twee van hulle het vuurwapens rondgeswaai.

Een van hulle het skootrekenaars geëis, maar die inwoner sê hy vermoed dié eis was net om die aanval soos ’n rooftog te laat voorkom. Hulle het glad nie vir die skootrekenaars gewag nie, maar het die stoep en hul minibus met ’n vloeistof begin natgooi.

“Die mans het toe na die straat se kant beweeg en iets wat soos ’n seinfakkel lyk, na die bus geskiet, wat aan die brand geslaan en die huis in vlamme laat uitbars het.”

Die groep gemaskerde mans het daarna in ’n Ford-voertuig van die toneel gevlug.

Volgens die inwoner het chaos uitgebreek toe hulle van die brandende stoep af probeer ontsnap het.

“Ons het oormekaar geval soos ons na ’n plek by die agterste muur gesoek het om daaroor te spring. Ek is net dankbaar ons almal leef nog, maar ek vermoed hierdie voorval was meer as ’n kamtige roof.”

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder, sê ses mense het in die voorval brandwonde opgedoen en hulle is in die Dora Nginza-hospitaal opgeneem.

Sy sê die polisie ondersoek ’n saak van brandstigting.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!