Volgens TLU SA het die boere die ekonomie gered, dus los hulle grond nou uit!

Die feit dat die land se ekonomie nie meer in ‘n tegniese resessie verkeer nie, is te danke aan die reuse bydrae wat landbou gelewer het. Volgens die statistikus-generaal het landbou ‘n groei van 33,6% getoon en daardeur die ekonomie beter laat vaar as wat verwag is.

“Dit is ‘n onbetwisbare bewys daarvan dat landbou die basis van die ekonomie uitmaak,” sê TLU SA se president, mnr. Louis Meintjes. “Landbou is dus direk verantwoordelik daarvoor dat die ekonomie sodanig kon herstel, dat hy die land uit sy tegniese resessie kon lig.

“Dit bewys dus dat die regering met vuur speel om landbou as politieke speelbal te gebruik vir polities-ideologiese benaderings oor veral grond. Die land het tans veral ekonomiese stabiliteit nodig, en dit is nou weer eens onteenseglik bewys dat landbou by uitstek kan help om die ekonomie te stabiliseer en selfs te laat groei.

“Daarom moet die regering en ander rolspelers en meningsvormers hiervan kennis neem, en landbou polities met rus te laat, en boere toe te laat om voedsel op elke tafel te plaas en die land tot ekonomiese voorspoed te help neem,” sê mnr. Meintjes.


Enjoyed this post? Share it!