Voordele vir Koffie drinkers

Volgens onlangse navorsing kan ’n koppie koffie elke oggend meer doen as om net jou energie ’n hupstootjie te gee.

’n Universiteit in die VK het voorheen gepubliseerde studiestukke ontleed wat handel oor die inname van koffie en die uitwerking wat dit op lewersiektes het.

Navorsers by die universiteit van Southampton het die resultate van meer as 43,000 mense wat aan die studie deelgeneem het, bestudeer en gevind dat twee ekstra koppies koffie per dag gekoppel is aan ’n 44 persent laer risiko om sirrose van die lewer te ontwikkel.

Vergeleke by geen koffie-inname nie, het navorsers geraam dat een koppie per dag verbind is met ’n 22 persent laer risiko op sirrose

3 koppies koffie het boonop beteken die risiko is 57 persent laer en vier koppies het dit met 65 persent laat daal.

Die risiko vir sirrose het in al die studies, behalwe een, gedaal soos wat die daaglikse koppies koffie meer geword het.

Meer as ’n miljoen mense sterf elke jaar wêreldwyd aan sirrose. Die mees algemene oorsake hiervoor is alkoholinname, hepatitis B, hepatitis C en vervetting van die lewer, wat aan vetsug en diabetes gekoppel word.

Volgens dr. Oliver Kennedy, van die universiteit van Southampton, is die studie bemoedigend, tog is dit belangrik om te onthou dat daar geen kuur as sodanig vir sirrose bestaan nie.

Hy het egter bygevoeg dat, indien koffie kan help, sal dit geen skade doen om dit te drink nie.

“Dit is betekenisvol dat die risiko om sirrose te ontwikkel moontlik verlaag kan word deur die inname van koffie, ’n goedkoop, alombekende drankie, wat goed deur die liggaam verdra word,” het hy verduidelik.

Maar wat bevat koffie nou eintlik wat so goed is vir lewersiekte? Die navorsers het erken hulle is nie heeltemal seker nie.

“Koffie is ’n komplekse mengsel wat honderde chemiese samestellings bevat, en ons weet nie presies watter een van hulle die lewer beskerm nie,” was dr. Kennedy se opmerking.

© Cover Media

Huisgenoot  I April 2016

Enjoyed this post? Share it!