Voormalige Staats President FW De Klerk van Hoogverraad beskuldig

Op Saterdag, 31 Mei 2014 het die Kommissie van Volksgeregtelike Ondersoek na Staatkundige Verandering in Suid-Afrika (KOGESA) se sitting in verband met die optrede van die voormalige Staatspresident, FW de Klerk, in Pretoria plaasgevind.

Die dag het afgeskop met ‘n feestelike atmosfeer waartydens die Wesranders (RVB-dames en Paardekraal Verkenners) hulle nou reeds bekende tydlynkompetisie aangebied het – hierdie keer, tydens die 100-jarige herdenkingsjaar daarvan, met die 1914-Rebellie as tema.

Alles en nog wat was ook by verskeie stalletjies te koop.

Vanaf 11 uur het die atmosfeer ernstiger geraak, en het aanwesiges in die saal op die terrein bymekaar gekom vir die KOGESA-sitting. Nadat geopen is met samesang, Skriflesing en gebed deur Ds. F. Van der Merwe, het laasgenoemde die Voorsittende Beamptes en die Klaer ‘n Bevestiging laat aflê dat hulle in die loop van die verrigtinge gelei sal word deur die Reg en hulle gewete.

As Voorsittende Beamptes het opgetree Mnr. Marius Coertze (bekende prokureur vanPretoria); Mev. Suzé Buitendag (‘n voormalige advokaat wat tans praktiseer as prokureur) asook Adv. Jan van Zyl (bekende regsman in volkskringe). As Klaer het Mnr. Paul Kruger (prokureur) die saak teen FW de Klerk voorgedra.

Alle regslui wat opgetree het, beskik oor omvangryke kwalifikasies en ervaring.

Tydens sy argument, het Mnr. Kruger ‘n groot aantal dokumente voorgelê (waaronder die 1983-Grondwet wat tydens De Klerk se bewind gegeld het, asook die Wet op die Uitvoerende Oorgangsraad en die Kieswet wat hy en die NP deur die Parlement laat aanneem het in 1993). Mnr. Kruger het aangetoon hoe beide hierdie Wette lynreg in botsing was met die destyds-geldende Grondwet – iets wat tot ongeldigverklaring van Parlementswette gelei het in vorige Appélhofuitsprake soos die Harris-beslissings van die 1950’s.

Verder het De Klerk en die NP se afwykings van hulle verkiesingsmandaat en hulle vrywillige inperking van die Vrye Mandaatsteorie ter sprake gekom, waaraan hulle hulleself uiteindelik nie gehou het nie. Daar is ook aangetoon hoedat De Klerk self erken het dat die 1994-verkiesingsuitslae sodanig chaoties was dat daar regsgronde was om dit te betwis. Desondanks het hy dit aanvaar – sodat die Swart bewindsoorname nie in gedrang gebring kon word nie.  

Mnr. Kruger het aangevoer dat De Klerk se verbreking van die tersaaklike Staatsreg-beginsels met sodanige opset verrig is, dat sy handelinge voldoen het aan die elemente van die misdryf Hoogverraad.

Aan die einde van Kruger se argument het die Voorsittende Beamptes die volgende Bevinding uitgereik:

“Nadat ons as Voorsittende Beamptes argument aangehoor het op 31 Mei 2014 in die verrigtinge van die Kommissie van Volks-Geregtelike Ondersoek na Staatkundige Verandering in Suid-Afrika, 1989-1994, kom ons tot die volgende Bevinding:

 

  1. Dat die voormalige Staatspresident, Frederik Willem de Klerk, sy ampseed verbreek het.

 

  1. Dat die voormalige Staatspresident, Frederik Willem de Klerk, die reëls en beginsels van die tersaaklik-geldende Staatsreg verbreek het deur wetgewing in stryd met die tersaaklik-geldende Grondwet, Wet 110 van 1983, aan te laat neem terwyl gemelde Wet 110 van 1983 van krag was.

 

  1. Dat die voormalige Staatspresident, Frederik Willem de Klerk aldus onregmatig opgetree het.

 

  1. Dat die voormalige Staatspresident, Frederik Willem de Klerk, se voormelde onregmatige optrede geskied het met die opset om die grondwetlike struktuur van die Republiek van Suid-Afrika te verander.

 

  1. Dat die voormalige Staatspresident, Frederik Willem de Klerk, se optrede in die vooropstelling voldoen aan die elemente van die misdryf Hoogverraad.”

Van Die Vryburger

Enjoyed this post? Share it!