Voorman van wildplaas tydens plaasaanval doodgeskiet in Jagersfontein-omgewing, Vrystaat

’n Jong plaasvoorman is Sondagmiddag dood toe hy na bewering tydens ’n inbraak op ’n wildplaas in die Jagersfontein-omgewing in die Vrystaat in die hart geskiet is.

Kyle Stols (22), die voorman op ’n wildplaas van Hantari Game Breeders in die Jagersfontein-omgewing, is op die toneel dood.

Die wildplaas behoort aan Marius Eksteen, eienaar van die DIY Superstore in Bloemfontein.

Verskeie boere en buurtwaglede van AfriForum in Bloemfontein het reageer en die paaie in die omgewing van die plaas en so ver as die Bloemfontein-omgewing versper.

Konst. Mosili Ntsika, polisiewoordvoerder, sê die omstandighede rondom die skietery sal nog ondersoek word en polisiekundiges sal Maandag terugkeer na die plaas vir verdere ondersoek om te bepaal presies wat gebeur het.

’n Vuurwapen is by Stols se lyk gevind en dit is steeds onseker wat presies gebeur het.

Volgens inligting het ’n onbekende aantal mans Sondagmiddag laat op die plaas toegeslaan en glo by een van die rondawels probeer inbreek.

’n Alarm het afgegaan en Stols het ondersoek gaan instel en glo die mans betrap.

Hy is na bewering in die bors gewond toe hy die mans gekonfronteer het en is op die toneel dood.

Die aanvallers het weggehardloop sonder om enigiets te buit.

Ntsika kon nie Sondagaand dadelik bevestig of daar ’n inbraak was nie, maar het gesê ’n klag van moord word ondersoek.

Polisielede van verskeie omliggende polisiekantore sowel as die K9-eenheid, forensiese ondersoekers en die misdaadintelligensie-eenheid was teen Sondagmiddag laat nog op die toneel.

Verskeie boere en buurtwaglede van AfriForum in Bloemfontein het reageer en die paaie in die omgewing van die plaas en so ver as die Bloemfontein-omgewing versper.

Aanvanklik is vermoed dat die aanvallers in twee bakkies weggejaag het, maar inligting het later daarop gedui dat hulle te voet gevlug het.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Deur: Newerk 24


 

Enjoyed this post? Share it!