Voorsitter van Front Nasionaal se gesin erg getraumatiseer na beweerde polisie brutaliteit

’n 45 jarige vrou en haar 22 jarige seun is erg getraumatiseer nadat hulle  op 15 Junie deur lede van Duduza Polisie van veediefstal aangekla en gearresteer is.

Hulle is die vrou en seun van Gorden Fox, voorsitter van die  party Front Nasionaal.

Volgens Martie Fox, was sy en haar seun Robert, asook haar dogter Michelle en die se tweejarige baba omstreeks 13:30 na Nigel onderweg om kinders by ’n plaaslike laerskool met haar bakkie op te laai.

Regoor Nigel SPCA op die Nigel en Dunnottar-pad, het ’n trop bokke die pad versper en Martie sê sy het stilgehou sodat Robert die bokke kon verjaag.

“Die volgende oomblik het ’n polisievoertuig langs ons gestop. ’n Polisieman – en vrou in privaat drag het Robert daarvan beskuldig dat hy besig was om bokke te steel.

Die polisieman het na die polisievoertuig geloop en met ’n vuurwapen teruggekeer.  Hy het die wapen oorgehaal en Robert beveel om die bok wat hy gesteel het, uit die bakkie te gaan haal,” het Martie aan die plaaslike Rekord koerant gesê.

Robert het glo aan die polisieman verduidelik dat hy die bokke uit die pad gejaag het en die trop wat toe reeds die pad oorgesteek het, aan die polisieman uitgewei.

“Die polisieman wou niks weet nie en het gedreig om te skiet,” het Robert gesê.

Uit vrees vir hulle lewens het Robert in die bakkie gespring en Martie het weggejaag, maar by die Vetsakbrug net voor Nigel, het ’n rooi bakkie die pad versper en was sy genoodsaak om te stop.

Nog ’n polisiebeampte in privaat drag het uitgeklim en weer is Robert van veediefstal beskuldig.

“My dogter het ’n selfoon video gemaak van hoe een polisieman toue agter in my bakkie gebruik het om Robert te probeer vasbind.  Robert get verskeie merke aan sy nek soos hy in die proses beseer is.  Toe die polisieman sien my dogter neem dit op, het hy na die selfoon gegryp en in die proses my tweejarige kleinkind wat op haar skoot gesit het, sê  lip seergemaak.  Die polisieman het toe die selfoon in die hande gekry en die video uitgewis,” aldus Martie.

Daarna het die polisiebeamptes Robert in die polisievoertuig gelaai en met hom in die rigting van Duduza gery.

Martie sê sy het die ergste gevrees en besluit om hulle te volg.  Onderweg het die polisieman by ’n veewagter stilgehou en ’n kortstondige gesprek met hom gevoer, waarna hy na Duduza Polisiekantoor toe gery het.  Toe Martie daar opdaag, het hulle haar summier gearresteer.

“Hulle het eers vir my gesê dit is oor ek weggejaag het, maar later het ek gehoor dat ’n klag van veediefstal teen my en Robert gemaak is.”

Martie is ’n asmalyer en gebruik kroniese medikasie, maar na haar arrestasie was sy na bewering vir ’n onbepaalde tyd aan die diefwering binne een van die kantore vasgeboei.

Sy sê dat sy en Robert omstreeks 19:30 die aand na Nigel Polisiekantoor geneem is, waar hulle die nag in die selle deurgebring het, tot ’n borgaansoek die volgende dag aangehoor kon word.  Hulle het vlugtig in die Nigel Landdroshof verskyn en die saak is tot 27 Junie uitgestel.

Gorden het aan Rekord gesê sy pogings om wam klere en Martie se noodsaaklike mediasie by die polisiekantoor vir haar te gee, aanvanklik geweier is.

Eers nadat sy ’n asma-aanval in die selle gekry het, was daar glo toestemming verleen dat sy dit mag ontvang.

By navraag het die polisiewoordvoerder Sers. Nellie Dwaba gesê die betrokke polisiebeamptes het in die verbyry gesien hoe Robert besig was om ’n bok in die bakkie te laai.  Hulle het hom glo gekonfronteer en van veediefstal beskuldig, waarop Robert en sy ma wou vlug.

Volgens Sers. Dwaba het ’n derde polisiebeampte (speurder) daarin geslaag om Martie van die pad af te trek.  Hulle is gearresteer en by Duduza Polisiekantoor van veediefstal aangekla.

“Die bewering van polisie brutaliteit kan nie ontken of bevestig word nie, aangsien die saak ondersoek word,” het Sers. Dwaba gesê.

Intussen het die Fox-familie regsadvies ingewin en oorweeg hul opsies om ’n saak teen die staat in te stel.

Bron: Rekord


 

Enjoyed this post? Share it!