Vrou (55) wreed vermoor

George. – ’n Jong man sal Maandag in die hof op Riversdal verskyn nadat die lyk van Fransiena van der Merwe (55), ’n inwoner van Vermaaklikheid, langs ’n pad by dié dorpie gevind is.

Na verneem word, is die man (21) ’n gesinslid van Van der Merwe wat glo by haar op Vermaaklikheid ingewoon het.

Kapt. Malcolm Pojie, ’n polisiewoordvoerder, het gesê ’n voorlopige ondersoek het getoon dat haar lyk Donderdag omstreeks 05:25 gevind is. Die verdagte is later dieselfde dag in hegtenis geneem.

“Aanvanklik het hy beweer dat hy die oorledene se lyk sowat 10 km verder in ’n bos langs ’n grondpad gevind het nadat sy vroeër die oggend uit die huis is en met haar voertuig weggery het.”

Volgens Pojie was daar moontlik ’n stryery tussen die verdagte en die oorledene in hul huis, waartydens sy met ’n stomp voorwerp oor die kop geslaan is.

’n Lykskouing wat gister gedoen is, dui daarop dat die oorledene aan veelvuldige hoofbeserings gesterf het.

Volgens Pojie duur die polisie se ondersoek voort.

Die Burger het verneem dat Van der Merwe op 7 Julie haar 55ste verjaardag gevier het.

Haar dogter Zelda (25) het verlede jaar in Oktober in ’n motorongeluk op ’n grondpad by Vermaaklikheid gesterf.

Van der Merwe, ’n jare lange inwoner van Vermaaklikheid, is bestempel as iemand met ’n goeie hart wat baie vir die plaaslike gemeenskap gedoen het.

Haar dogter se dood was glo baie swaar vir haar.

Haar oudste seun, Mario, was gister van Kathu in die Noord-Kaap na Vermaaklikheid onderweg. Hy het glo Woensdag die laaste keer met sy ma gepraat en is Donderdag van haar dood in kennis gestel.

“Ons wil graag weet wat presies gebeur het. My ma was die liefdevolste mens. Ons het mekaar omtrent elke dag gebel. Sy het almal altyd vervoer en gehelp.

“Ons is baie geskok oor wat gebeur het.”

Die begrafnis sal na verwagting volgende week wees.

Bron Netwerk24


 

Enjoyed this post? Share it!