Vrou geskiet tydens tweede aanval op kleinhoewe

ʼn Vrou van Mpumalanga is met skietwonde in die hospitaal opgeneem nadat sy Woensdagoggend vir die tweede keer op ʼn kleinhoewe buite Sundra aangeval is.

Derek Bester, voorsitter van die plaaslike buurtwag, die Sundra Rietkol Bulldogs, het gesê die vrou is aangeval toe sy vroeg vanoggend uit haar huis gegaan het om die store vir die werkers te gaan oopsluit.

“Sy het baie kwaai waghonde op die kleinhoewe en het vanoggend, soos sy elke oggend doen, eers uitgegaan om die honde te gaan toemaak. Daarna het sy na die store gestap om dit vir die werkers oop te sluit. Toe sy omdraai, het sy haar in die aanvallers vasgeloop,” het Bester gesê.

Hy het gesê die twee aanvallers het ʼn vuurwapen en ʼn panga by hulle gehad en hulle het skote op haar afgevuur. Sy is in haar linkerarm net bo haar gewrig en in haar regterboarm gewond. “Sy het vir haar man geskree en na die huis toe gehardloop waarna die aanvallers op die vlug geslaan het. Hulle het oor ʼn muur gespring en verdwyn.”

Bester het gesê die buurtwag en die polisie was kort daarna op die toneel en het die aanvallers se spoor gevolg.

“Ons het eers die panga en kabelbinders opgetel en later ook die vuurwapen in die gras gevind. Ons het ook hul rugsak gekry met ʼn koeëlvastebaadjie binne-in,” het hy gesê. “Dit laat ons dink hul plan was om in die huis te kom en die mense vas te bind en seer te maak.”

Die vrou se man het aan die media gesê sy is steeds in die hospitaal sodat haar wonde skoongemaak kan word, maar het gesê albei wonde is gelukkig net vleeswonde. Die man het versoek dat sy vrou se naam nie bekendgemaak word nie uit vrees vir hul veiligheid.

Bester het gesê hoewel hulle nie daarin kon slaag om die verdagtes vas te trek nie, vermoed hy dat dit moontlik iemand is wat die kleinhoewe geken het.

“Ek vermoed hulle het haar roetine geken, want hulle het eers gewag dat sy die honde gaan toemaak voordat hulle haar oorval het,” het hy gesê.

Die vrou is in Augustus 2016 ook op die kleinhoewe oorval en met ʼn graaf aangerand. Sy is destyds in die waakeenheid van ʼn hospitaal opgeneem.

Sers. Gerald Sedibe, woordvoerder van die polisie, het die voorval aan bevestig en gesê ʼn saak van poging tot moord word ondersoek.


Enjoyed this post? Share it!