Vrou hang aan vensterbank tydens gewapende huisroof

‘n Vrou het Saterdagoggend in die vroeë oggendure eers in ‘n kas weggekruip en toe in die reën aan ‘n vensterbank vasgeklou en vir hulp gebel terwyl vier gewapende rowers die ander inwoners van die huis in Schoemansville aangehou en herhaaldelik aangerand het.

Yvette Visser en André du Toit voor die boonste vensterbank waas sy vir lewe en dood vasgeklou het.
“Die rowers het my hande en voete met die honde se leibande vasgemaak. Van hulle is na my pa en ma se kamer en hulle het die deur afgeskop.”

Die 27-jarige Yvette Visser het vir lewe en dood geklou aan die vensterbank op die tweede verdieping van die huis in Van Veldenstraat terwyl sy vir hulp gewag het.

Yvette, haar verloofde, André du Toit (36), en sy ouers, Celia (53) en Jacques (57), was in die huis toe die rowers, vier met vuurwapens, en een met ‘n mes, ongeveer 03:00 deur ‘n venster by die huis ingebreek het.

André was nog wakker en op pad na buite om die honde uit te vat, toe hy hom in die rowers in die gang vasloop.
“Ek het die honde in die slaapkamer op die boonste vloer gaan haal en hulle het in die gang afgehardloop. Skielik het een geblaf en toe ek opkyk, toe staan die man daar met ‘n vuurwapen op my gerig. Hy het my beveel om stil te bly. Ek het agteruit geloop en uitgeroep, ‘moet asseblief nie’,” het André aan Kormorant vertel. Nog drie rowers het te voorskyn gekom.

Die res van die familie het van sy uitroepe wakker geword en besef wat aangaan. Jacques het sy en Celia se slaapkamerdeur toegemaak en gesluit en Yvette het in die kamer bo in die huis in ‘n kas geklim.
“Die rowers het my hande en voete met die honde se leibande vasgemaak. Van hulle is na my pa en ma se kamer en hulle het die deur afgeskop.”

Die rowers het Jacques met ‘n vuurwapen oor die kop geslaan en die egpaar met elektriese kabels vasgebind. Hulle het André en sy ouers gevra waar die kluis en geld is en hulle herhaaldelik geskop en op hulle getrap. “Telkens as ons vir hulle gesê het daar is nie ‘n kluis in die huis nie, het hulle ons opnuut geskop en slaan. Ek het gesmeek hulle moet alles vat en ons net los, maar hulle het my aanhou skop en gesê ek moet stilbly.”

Terwyl een by hulle waggehou het, het die ander die huis deursoek. Een het in die kamer ingekom waar Yvette in die kas weggekruip het. Yvette het intussen ‘n familielid uit die kas gebel gebel wat die polisie in die hande probeer kry het.

“Ek het omtrent ses keer gebel omdat hulp net nie opgedaag het nie. Omdat daar nie veel goed in die kamer was nie, was ek bang hy maak die kas oop. Toe ek hoor hy gaan vir ‘n oomblik uit die kamer uit, het ek uitgeklim, deur die venster geklim en op die vensterbank gebalanseer. Ek weet nou nog nie hoe ek dit reggekry het nie. Ek het bo aan die vensterbank vasgegryp en geklou. Ek het gesukkel om nie te gly nie,want dit het hard gereën.”

Die familielid het intussen André se broer gebel wat polisiestasie toe gejaag het om die polisie te ontbied.
“Toe die polisie saam met my broer opdaag, het die rower by ons vir die ander geskree en hulle het begin rondhardloop en die gesteelde goed by ‘n venster uitgegooi. Toe die polisie inkom, was die rowers steeds in die erf. Hulle het agter oor die muur gespring en gevlug,” het André gesê.

Hulle is weg met skootrekenaars, selfone en juwele.

André, Jacques en Celia het ernstige kneusplekke opgedoen en Jacques se lewer is vermoedelik beskadig.
Die Hartbeespoort polisie ondersoek ‘n saak van gewapende huisroof. Die rowers is nog op vrye voet.

Deur: Daleen van Manen/Kormorant


Enjoyed this post? Share it!