Vrou kritiek ná aanval op kleinhoewe in Muldersdrift omgewing

ʼn Vrou is in ʼn kritieke toestand in die hospitaal nadat sy tydens ʼn aanval op ʼn kleinhoewe in die Muldersdrift-gebied in Gauteng geskiet is.

Konst. Lucky Matome, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie is Saterdag omstreeks 20:30 na die kleinhoewe in die Rietfontein-gebied ontbied en het die vrou aangetref waar sy in ʼn plas bloed gelê het.

“Die voorlopige ondersoek dui daarop dat die vrou tydens ʼn huisroof in haar rug geskiet is. Dit is nie duidelik hoeveel verdagtes by die hartelose misdaad betrokke was nie,” het Matome gesê. Hy het gesê selfone, ʼn tuisteaterstel en ʼn onbevestigde bedrag kontant is uit die huis gesteel.

“Daar kon nie veel inligting by die slagoffer verkry word nie, aangesien sy in ʼn kritieke toestand was. Sy is na ʼn hospitaal gehaas vir dringende mediese behandeling.”

ʼn Saak van poging tot moord en huisroof word ondersoek.

Die aanval kom net ʼn dag nadat ʼn man Vrydagoggend op ʼn kleinhoewe ook in die Rietfontein-gebied in Muldersdrift doodgeskiet is.

Maroela Media het vroeër berig die man het omstreeks 05:45 ʼn geluid buite op die kleinhoewe gehoor en uit die huis gegaan om ondersoek in te stel. ʼn Skietgeveg het tussen hom en die verdagtes ontstaan en die man is in sy bolyf gewond. Hy het op die toneel gesterf.
Matome het gesê die SAPD in die Wes-Rand is baie bekommerd oor die toenemende aantal aanvalle op kleinhoewes in die gebied.

Deur: Mariné Lourens/Maroela Media


Enjoyed this post? Share it!