VSA SE TRUMP MAAK DIE LIBERALE KWAAD

Donald Trump se uitspraak laat verlede week dat dit tyd geword het om Jerusalem te erken as wettige hoofstad van die Republiek van Israel, maak opslae wêreldwyd. Sedert die dae van Bill Clinton het elke Amerikaanse president nog voor ‘n verkiesing belowe dat daar erkenning gegee sal word aan die status van Jerusalem. Trump is die eerste wat dit tot uitvoer bring.

Om dit te begryp moet ‘n mens ook verstaan watter invloed die skatryk Joodse sakegemeenskap in New York op die verkiesingsveldtog van ‘n kandidaat het. Waarskynlik het almal gedink dat dit maar weer ‘n leë belofte is, soos met al die voorgangers.

Trump se uitlating het die Palestyne woedend, laat die Arabiese state rooi sien en die liberale stik in die spoeg. Hulle was immers nog aan die gal braak oor Melania Trump, wat verlede Maandag in ‘n toespraak verwys het na Kerstyd as ‘n herdenking van die koms van Christus die Messias – ‘n stelling wat die sekulariste van Amerika, wat Kersfees as ‘n lekker kuiertyd en niks meer beskou, warm onder die kraag gehad het.

En net die vorige week was daar opslae in Brittanje oor ‘n beoogde staatsbesoek van Trump aan die Verenigde Koninkryk wat glo gekanselleer moet word nadat Trump ‘n twiet op sy persoonlike Twitter profiel gedeel het. Dié omstrede twiet kom van die profiel van die regse, nasionalistiese en anti-immigrasie Britain First beweging. Selfs Theresa May was genoodsaak om haar daaroor uit te laat. Angela Merkel het ook ‘n eiertjie te lê gehad oor die “Jerusalem” uitspraak.

Hoe dit ookal sy, heel duidelik is die Trumps nie van plan om politieke korrektheid in hulle pad te laat staan nie. Hulle sê ‘n ding soos hy gesê moet word. En dit krap die vaandeldraers van die Nuwe Wêreldorde se kaarte lelik deurmekaar.

Deur: Daniel Lötter/Front Nasionaal SA


Enjoyed this post? Share it!