Vuurwapens vir Afrika(ne) maar geen lisensies of rekord nie!

Soos ons al lankal weet is daar chaos met wapens en hul lisensies. Waarmee dink die SAP word transito rooftogte en plaasaanvalle mee gepleeg?

Terwyl die jongste misdaadstatistieke toon dat veral geweldmisdade “onaanvaarbaar” hoog is, veroorsaak algehele chaos by die sentrale vuurwapenregister (SVR) dat die polisie bykans geen beheer oor vuurwapens het nie.

Die parlementêre portefeulje-komitee oor polisie het gister dié skokkende stand van sake ontdek toe hulle die SVR in Pretoria besoek het.

Chaotiese tonele het komiteelede in die SVR-gebou begroet met duisende nuwe en voltooide vuurwapenlisensie-aansoekdokumente wat weens ’n gebrek aan stoorplek, in hope op gangvloere, tafels, rakke en kantoorvloere gestaan het.

Komiteelede het dit as ’n brandgevaar beskryf.

Verder het die SVR ook nie ’n permanente hoof nie nadat die vorige een weens korrupsieverwante bewerings in die pad gesteek is.

Personeel het gister ook gekla oor die stank van urine en ontlasting weens haweloses buite die gebou, terwyl hulle ook deur rotte en voëlluise geteister word.

Die komitee was by die kantore as deel van hul besoek om die polisie se geskiktheid om misdaad landwyd doeltreffend te kan beveg, te assesseer.

Francois Beukman, voorsitter van die komitee, het gesê daar is ’n sterk verband tussen geweldmisdade en vuurwapens.

Komiteelede se monde het egter verder oopgehang in skok en ongeloof toe genl.maj. Bransby Luke, waarnemende SVR-bevelvoerder, en sy provinsiale adjudante openlik erken het hulle weet ook nie wat van honderdduisende vuurwapens geword het wat destyds in voormalige tuislande gelisensieer is nie.

Komiteelede het gehoor dat daar nie ’n enkele databasis vir vuurwapens, wat bogenoemde moet insluit, in Suid-Afrika bestaan nie.

Beukman het dit as onaanvaarbaar beskryf.

“Ons kan nie ’n situasie toelaat waar misdaad met wettige en onwettige vuurwapens buite beheer raak nie.

“Daar moet ná 20 jaar van demokrasie van vuurwapens uit die voormalige tuislande verantwoording gedoen kan word. Ons moet weet wie almal vuurwapens in die land besit.”

Dianne Kohler Barnard, lid van die komitee, verkyk haar gister aan die toestande van die polisieselle van die Sunnyside-polisiekantoor in Pretoria. Behalwe daarvoor was sommige komiteelede baie beïndruk met dié polisiekantoor. Foto: DEAAN VIVIER

Komiteelede was verder geskok toe onthul is dat:

  •  ’n reuse-personeeltekort die verwerking van vuurwapenaansoeke erg kniehalter;
  •  meer as 39 000 polisiebeamptes self nie permitte het om vuurwapens te hanteer nie;
  • talle polisiebeamptes by polisiekantore wat vuurwapenlisensies hanteer nie behoorlik opgelei is om dit te doen nie;
  •  ’n problematiese liasseringstelsel veroorsaak dat derduisende lisensie-aansoeke verlore raak;
  •  die stelsel toelaat dat dieselfde vuurwapen in al nege provinsies gelisensieer kan word; en
  •  skuiwergate in huidige vuurwapenwetgewing dit moontlik maak vir een persoon om tot 120 vuurwapens te kan besit.

Die komitee het ’n beroep op genl. Riah Phiyega, nasionale polisiehoof, en haar topbestuur gedoen om dadelik planne te bespoedig vir ’n gekonsolideerde rekenaarstelsel en ’n skoon, korrupsievrye vuurwapendatabasis vir doeltreffende vuurwapenbeheer.

Die SVR moet ook voor 7 Oktober ’n gedetailleerde regruk-plan aan die komitee voorlê.

Die polisie-sekretariaat moet ook binne drie weke wysigings voorlê om skuiwergate in vuurwapenwetgewing verder te verhinder. Die komitee sal later dringende aanbevelings aan die parlement oorhandig.

Dianne Kohler Barnard, DA- woordvoerder oor polisie, het die SVR-gebou as “absoluut walglik” beskryf.

 

10653653_672501116190290_911848878879518084_n   10689546_734783206590616_8296327486309626972_n

Wapens van vorige Tuislande sonder rekord…

Daar is geen rekord oor wie die honderdduisende vuurwapens wat destyds in die voormalige tuislande gelisensieer is, besit of waar die wapens nou is nie.

Die skokkende inligting is Dinsdagoggend in Pretoria onthul toe lede van die portefeuljekomitee die Sentrale Vuurwapenregister (SVR) in die hoofstad besoek het.
Komiteelede het gehoor daar is twee datastelsels met inligting oor wie vuurwapens in die land besit, maar dat dit nie met mekaar verbind is nie.
Francois Beukman, voorsitter van die portefeulje-komitee, het die situasie as onaanvaarbaar beskryf “veral in die lig van geweldsmisdade in Suid-Afrika wat al hoe meer met vuurwapens uitgevoer word”.
“Ons kan nie ‘n situasie toelaat waar misdaad met wettige en onwettige vuurwapens buite beheer raak nie. Vuurwapens van die voormalige tuislande moet op die sentrale stelsel kom. Dit is na 20 jaar onaanvaarbaar. Ons moet weet wie die eienaars van vuurwapens in die land is.

Enjoyed this post? Share it!