VVK meen “nesbevuilers” soos AfriSol vermaak ons verdrukkers en dat Self Beskikking wel haalbaar is.

In die afgelope dae was die woord “selfbeskikking” weer in talle monde – en sekere Afrikaanssprekendes het hulleself ongelukkig weereens aangestel om (sekerlik tot groot vermaak en tevredenheid van ons verdrukkers) die rol van “nesbevuiler” te speel en te verkondig hoe “onhaalbaar” en “onmoontlik” dit is dat ons volk homself weer in sy eie staat kan regeer – want ons is “nêrens ‘n meerderheid nie”. Wat dikwels verkondig word, is dat die “werklikheid” van ‘n meerderheids-besette gebied EERS geskep moet moet word, alvorens ons van selfbeskikking kan praat.

Die VVK was nog nooit teen die skep van sulke werklikhede gekant nie – het trouens nog altyd ons waardering uitgespreek teenoor enige inisiatief om, waar ookal, ons mense in getalle gekonsentreer te kry. Niemand by sy volle positiewe kan sulke lofwaardige aksies “afskiet”, of stry teen die feit dat ons uiteindelik ‘n getallekonsentrasie-situasie tot die volste mate moontlik moet bereik nie.

Wat ons egter nog altyd daarby gesê het, is die volgende:
1. Eerstens: Die Republiek van Suid-Afrika in sy huidige gedaante, is ‘n reusagtige gebied – eintlik ‘n hele subkontinent – met sekere massiewe stukke grond wat (tans nog) deur bykans niemand bewoon word nie. Die Kruger Wildtuin, byvoorbeeld, is op sigself basies so groot as die staat Israel; en dit is ‘n gebied waarop ons volk groot geskiedkundige aanspraak het. Hierdie voorbeeld kan aangevul word met talle stukke staatsgronde; groot grondeiendomme wat (tans nog) deur getroue volksgenote met kaart en transport besit word; en natuurbewarings- en ander ylbewoonde gebiede regoor die lengte en breedte van Suid-Afrika.

2. Tweedens: Om ‘n ekonomies-lewensvatbare stuk aarde met die oog op die skepping van ‘n werklikheid aan te koop, te vergroot en te ontwikkel (waar nie net finansieël-onafhanklike mense kan bestaan nie, maar minder gegoede volksgenote en beginners in die ekonomie ook in massas woon- en werksgeleenthede gebied kan word) sal etlike miljarde Rande aan beleggingskapitaal kos…geld wat niemand het, of ingesamel blyk te kry, of – as dit in sekere kringe wel voor hande is – klaarblyklik hieraan wil spandeer nie. Intussen is tyd nie aan ons kant nie; die uurglas loop stadig maar seker uit vir ons. Dalende geboortesyfers, volgehoue emigrasie, en moord terwyl honderde duisende besig is om op allerlei vlakke te ontaard en te vermeng, is besig om die getalle van suiwer en getroue volksgenote daagliks al kleiner en kleiner te maak.

3. Derdens: Selfs al sou so ‘n ideale werklikheid deur een of ander wonderwerk realiseer, en honderde-duisende van ons mense kom etnies-homogeen gekonsentreerd in ‘n sekere gebied te lande, is daar niks wat die Regíme (wat natuurlik nog steeds die wetgewende-, uitvoerende-, en regsprekende oppergesag oor so ‘n werklikheid bly uitoefen) gaan verhinder om daardie werklikheid te vernietig met nasionale wetgewing en/of op talle ander maniere nie – net soos dieselfde Regíme baie ander werklikhede wat ons volk gehad het, reeds vernietig het.

4. Gevolgtrekking: Ja, ons moet werklikhede skep soveel ons kan – maar dit kan nie AL wees nie. BYKOMEND daartoe moet ons daardie stappe volg, oftewel die “remedies” uitput, wat die Internasionale Reg voorskryf vir volke wat nie vry is nie, om tot selfbeskikking te kom – sodat ons op staatkundige vlak ons penne kan begin inslaan in private-eiendom gebiede waar ons wel ‘n meerderheid is; asook in bestaande werklikhede wat daarin belangstel, asook in onbewoonde- of baie ylbewoonde gebiede waar ons blitssnel ‘n meerderheid kan word – gebiede wat nie noodwendig aan mekaar hoef te grens nie, en nie noodwendig net in een streek van die huidige Suid-Afrika lê nie.

Die Volksraad wat in 2011 deur VVK-kiesers verkies en op 10 Oktober 2011 ingehuldig was, is juis verkies met daardie spesifieke opdrag: Om bogenoemde stappe te volg, oftewel die “remedies” uit te put, wat die Reg voorskryf om tot selfbeskikking te kom.

In die aanloop tot die 2011-verkiesing, het ek van talle verhoë af vir voornemende kiesers verduidelik wat die sin van die verkiesing van ‘n Volksraad is en wat hulle taak, gesien in die lig van wat die Reg bepaal, gaan wees – naamlik om die volgende siklus te deurloop:
1. Om ‘n “ja” of ‘n “nee” by toepaslike Suid-Afrikaanse instellings en die Suid-Afrikaanse Regering te kry vir die beginsel van die herwinning van selfbeskikking in ons eie gebied (of –gebiede).

2. Indien dit ‘n “nee” is (hetsy direk of indirek): Om ‘n “ja” of ‘n “nee” vir internasionale ingryping te kry by toepaslike internasionale instellings.

3. Indien laasgenoemde ook ‘n “nee” is: Dat die Volksraad sodanige verloop van sake op volksvergaderings aan die kiesers sal voorlê; wat hulleself deur die loop van die hele proses inpresteer het in die reg om op daardie stadium die besluit te neem wat die volk goeddink, sodat ons regmatige regsposisie herstel word.

Die Volksraad het in die afgelope meer as drie jaar, ter uitvoering van sy opdrag, ‘n aantal aksies uitgevoer – waaronder ‘n toepaslike klag wat by die SA Menseregtekommissie gelê is; ‘n Hofgeding wat teen die Regering (met sukses) aanhangig gemaak is en – daaruit voortspruitend – ‘n gesprek wat met die Regering in Augustus 2014 gevoer is; asook ‘n ultimatum wat onlangs aan die Regering uitgestuur is tot die effek dat, indien daardie gespreksinisiatief nie van Regeringskant af voortgesit word voor 31 Mei 2015 nie, die Volksraad sal aanbeweeg na die volgende fase in die siklus (naamlik om ‘n uitnodiging aan die toepaslike internasionale instelling te rig tot internasionale bemiddeling). Ons is dus nie meer baie ver van die einde van die siklus af nie. Ek het persoonlik teenoor volksgenote onderneem, ten einde hulle te beweeg om hierdie hele aksie te steun en as kiesers te registreer, dat die VVK sal toesien dat voorgenoemde siklus voltooi word. Ek staan by daardie onderneming.

Aangesien die VVK geglo het dat daardie siklus egter binne drie jaar afgehandel sou kon word, was die huidige Volksraad vir ‘n termyn van drie jaar verkies – ‘n termyn wat tegnies gesproke dus op 10 Oktober 2014 verby was.

Twee voormalige Volksraadslede, Henk van de Graaf en Ben Geldenhuys, het intussen dienooreenkomstig aangedui dat hulle nie verder in die Volksraad dien nie.

Ons is dankbaar dat alle ander Volksraadslede besluit het om aan te bly, in die lig van die volgende:
1. Die volk was uitgenooi, maar het nie die sowat R2,000,000 aan die VVK beskikbaar gestel wat ‘n nuwe verkiesing gaan kos nie.

2. Staatkundige mandate word in ieder geval nie op ‘n uur-en-minuut-basis verleen nie; maar is, wat tydskale betref, beklee met buigsaamheid uit die aard daarvan. Niemand wat byvoorbeeld in “IEC”-verkiesings stem, doen so op voorwaarde dat die ANC dag-en-datum oor 4 jaar, 11 maande en 29 dae ‘n volgende verkiesing gaan hou nie. Verdere voorbeeld: Al was dit in die ou bedeling bepaal dat daar 5-jaarlikse Parlementsverkiesings moes plaasvind, was die eerste verkiesing sedert 1981 eers weer in 1987 gehou. Dit is nie vreemd in die Staatkunde nie.

3. Die huidige Volksraad is reeds ingegrawe in die proses, is bekend aan die Regering, en behoort reeds weens sulke doelmatigheidsredes en ter wille van kontinuïteit, die huidige proses te voltooi.

4. ‘n Koste-effektiewe telefoniese referendum gaan verdermeer eersdaags geloods word om die kiesers oor verlenging van die bestaande mandate te toets.

vvk
Ooreenkomstig die VVK se Grondwet, is twee persone wat die volgende naasmeeste stemme in die vorige verkiesing verwerf het (Mnre. Alwyn de Klerk van die Wesrand en Frans Pieterse uit die Clocolan-distrik in die Vrystaat) genader om in die twee voormelde here Geldenhuys en Van de Graaf se plekke te dien. Beide Mnre. De Klerk en Pieterse het die uitnodiging aanvaar en sal op 6 Junie as Volksraadslede in die Pretoria-omgewing ingehuldig word. Volksgenote wat die inhuldiging (in die vorm van ‘n kort erediens en ‘n ontbyt) wil bywoon moet asseblief vroegtydig met die VVK-kantoor (tel. 012-803 0712) skakel – slegs ‘n beperkte aantal sitplekke sal beskikbaar wees.

Met die totstandkoming van die VVK bykans 8 jaar gelede, was daar geen tekort nie aan doemprofete wat ‘n kort, mislukte lewe vir ons voorspel het. Intussen het ons duisende kiesers die Volksraad suksesvol tot stand gebring – die eerste liggaam in meer as 20 jaar van verdrukking wat amptelik en reguit aan die Regering verklaar het dat ons nie hulle baasskap oor ons aanvaar nie en ons eie grondgebied opeis waar ons weer onsself regeer. (Interressant genoeg: geen enkele Regeringslid het aan die Volksraad verklaar dat ons hiermee ‘n reg in die Grondwet “inlees” wat nie bestaan nie – soos wat vele Afrikaansprekendes, hoogaangeskrewe regslui inkluis, ons al probeer wysmaak het).

Die Volksraad bly steeds die enigste volksorganisasie wat homself op die pad bevind wat die Internasionale Reg voorskryf om onafhanklikheid te herwin. Die Volksraad se steunbasis bly uitbrei, danksy ‘n VVK-kantoor wat in stand gehou word en elke dag beskikbaar is om navrae te antwoord, om nuwe belangstellendes in te lig oor waarmee ons besig is en hulle as kiesers te registreer, om ons databasis in stand te hou en te sekureer.

Ek wil van hierdie geleentheid gebruik maak om elkeen wat dit help moontlik maak – deur voortgesette kieserregistrasies, deur positiewe en opbouende voorstelle, deur hoog gewaardeerde finansiële bydraes, deur oordrag van die boodskap – HARTLIK TE BEDANK.

Mag al ons offers, danksy die seën en Genade van Bo, soos brood op die water wees wat meervoudig na ons sal terugkeer.

Volksgroete;
Paul Kruger (Voorsitter: Sentrale Komitee, VVK)

 

keuse2

Enjoyed this post? Share it!