Waldimar Pelser: Suid Afrikaanse burgers is gatvol vir boggers

Suid Afrikaanse burgers het slegs ’n morele plig om hul te onderwerp aan die gesag van ’n legitieme staat. Reg?

Hoewel die ANC-regering onder Jacob Zuma demokraties verkies is, het hy sy legitimiteit verloor deur nie te regeer in die belang van die publiek nie, maar in kru eiebelang. Deur vermorsing, diefstal en korrupsie het Zuma en sy makkers die sosiale kontrak opgeskeur tussen ons, die burgers, en hulle, die boggers.

Hef hierdie feit ons morele plig op om ons belasting te betaal?

Daar is baie redes om nie te wil betaal nie.

Jacques Pauw se boek The President’s Keepers herinner ons dat misdadigers in beheer is nie net van die Valke, die polisie, die nasionale vervolgingsgesag en die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) nie, maar ook van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), oftewel “Sars”.

Die regering het sy legitimiteit verloor. Die sosiale kontrak is ongeldig.

Op bl. 4 van verlede Sondag se Rapport waarsku die SAID in ’n advertensie: “Betaal jou belasting of dra die gevolge”.

En tog wys Pauw hoe sigaretsmokkelaars, familie van Jacob Zuma en allerlei ander onderwêreldse hondsvotte miljarde in belasting aan die SAID skuld en daarmee wegkom omdat hulle vir die Zuma-dinastie te waardevol is.

Naby aan die mag, ver van skade.

Ondersoeke na hul belastingsake word beëindig en ondersoekers se loopbane vernietig. Ons weet van Johan van Loggerenberg en Ivan Pillay wat daar weg is omdat hulle te naby aan die waarheid gekom het oor die president en sy belastingsake maar daar was minder bekendes ook, soos Lorraine van Esch, wat volgens Pauw ’n “skuldboek” van meer as R6 miljard by die SAID bestuur het. Sy’s uitgestoot op die wagbeurt van Tom Moyane, die Zuma-pel en oud-tronkbaas wat die kruppel taksdiens deesdae bestuur.

Daardie geld is verlore. Maar óns word aangeslaan en drooggemelk!

Dit lyk reeds of daardie Suid-Afrikaners wat nog goed verdien, al hoe slimmer en slinkser maniere vind om te keer dat Jan Taks kom klop.

Een van die redes waarom Malusi Gigaba, minister van finansies, Zuma die afgelope week gevra het om ’n kommissie van ondersoek in te stel na belastingadministrasie in die land, is omdat sy onlangse mediumtermynbegrotingsraamwerk ’n tekort van R50 miljard in belastinginkomste gewys het. Kyle Mandy, ’n belastingbeleidskenner by die ouditeursfirma PwC, het aan Business Day se Hilary Joffe gesê hy raam dat die pap ekonomie verantwoordelik is vir slegs sowat R18 miljard van Gigaba se tekort.

Die res is weens “toenemende belastingvermyding” en ander administratiewe redes.

Suid-Afrikaanse belastingbetalers is goed gatvol, verontwaardig, en rebels.

Hulle is gatvol daarvoor om te sien hoe ’n derde of meer van hul inkomste in ’n bodemlose put in verdwyn. Hulle staan in verstomming oor die meer as R45 miljard wat die afgelope boekjaar “onreëlmatig” deur die regering bestee is (nie gesteel nie – maar dié besteding is nie gedoen in pas met die wet nie).

Modelburgers het siniese snorke begin gee as die SAID hulle dreig, want “almal kom dan daarmee weg”, veral as jy politieke bande het. Gewone mense het anders begin dink oor hul belastingplig en die syfers wys dis so.

Die regering kom sy deel van die kontrak nie na nie. Die regering het sy legitimiteit verloor.

So, die morele plig om aan hierdie illegitieme regering belasting te betaal, word om goeie redes bevraagteken.

Ongelukkig beskik selfs illegitieme regerings wel oor die vermoë om ons te dwing om ons wetlike belastingplig na te kom, en daarom bly belastingontduiking verkeerd.

Maar vermyding? Dit voel amper of die onthullings oor die SAID in Pauw se boek ons moreel verplig om so min te betaal as wat wetlik toelaatbaar is.

As ons sou besluit om Jan Taks te straf op elke manier tot ons beskikking, moet ons egter ook vra wat die gevolge van ’n verdere verval in belastingmoraliteit kan wees. Die krisis in staatshospitale en landelike openbare skole waar baie van ons nooit kom nie, maar wat die enigste toevlug is van die meeste gewone mense, kan eskaleer. Swaarkry kan toeneem.

Die probleem is dat belastingvermyding die enigste instrument in die hand van die meeste gewone belastingbetalers is. Dit laat ’n mens minder magteloos voel. Dis ’n manier om te sê ons respekteer nie meer die kontrak met hierdie boggers nie.

George Orwell het geskryf: “Teenoor die regering voel ek geen verpligting nie en ek sou belasting ontduik as ek kon. Niemand is patrioties oor belasting nie.”

Maar hoe ver strek ons plig teenoor ons medeburgers wat tans deur ons belasting onderhou word?

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!