Wanneer “Independent” Nie Onafhanklik is Nie, is “Demokrasie” ‘n Diktatorskap en Gehoorsame Volke in Gevaar…

Asof die ANC die Rand en die land nie genoeg skade berokken het nie, het ANC/SACP hul tande ook diep in die Engelse pers ingeslaan met die ietwat bedekte oorname van Independent Media se 18 koerante deur Iqbal Survé se Sekunjalo-konsortium, grotendeels met belastingsgeld.

Dit vorm deel van die regering se “goeie nuus”-veldtog, met die bankrot SABC wat die kitaar van die groot verhoog af slaan. In die proses word met belastingbetalers se geld gewoeker, terwyl daar ook miljoene rand uit staatspensioene vir die doel aangewend is. ʼn Mens moet nie juis verwag dat hierdie koerante krities sal rapporteer oor die feit dat Nommer Een nou kind Nommer 20 by moeder Nommer Sewe verwek het nie.

Hulle is ook nie geneig om die DA se verslagkaart oor die ANC se kabinet te publiseer nie. En dan is daar ook allerlei muilbandwetsontwerpe teen vryheid van spraak op die horison. Dit kan onder meer bepaal dat elke individu of organisasie wat digitale inhoud op die internet plaas, hom eers by die Rolprent-en-Publikasieraad moet registreer. Dit sal ook geld as jy ʼn foto van jou middagete op Instagram plaas of kommentaar lewer op Facebook. Soos sake nou staan, is dit nog net Engelse koerante soos die Sunday Times, Mail & Guardian, Business Day, City Press, The Citizen en die internetnuusdiensdienste soos Politics Web en Rand Daily Mail wat Engelse lesers min of meer onbevange met kritiek jeens die ANC se ergste wandade inlig.

Tot tyd en wyl….

Die ANC se eerste mediabelegging was in 2012 met die stigting van The New Age, ʼn proregeringskoerant wat deur die Guptas besit word. In sy eerste jaar is sowat R125 miljoen se advertensiegeld ingesamel, waarvan R75 miljoen vanuit die regering, semi-staatsinstellings en organisasies met regeringsbande afkomstig was.

Die New Age-sirkus kos steeds miljoene terwyl niemand weet wat die sirkulasie van die koerant is nie aangesien hy weier om, soos alle ander koerante, deur die Ouditburo vir Sirkulasie (ABC) geoudit te word. Die koerant sê hy druk en versprei daagliks 100 000 eksemplare en maak aanspraak op verkope van 84 000 – dieselfde as die lank gevestigde hoofstroomkoerante The Star en Sowetan. Twee jaar gelede het Mail & Guardian berig dat die bankrot SAL onderneem het om daagliks 63,000 eksemplare van die koerant te koop, terwyl daar ook onoopgemaakte pakke van The New Age in staatskantore lê. ʼn Gewese werknemer van die koerant gesê duisende eksemplare van die onverkoopte oplaag word daagliks vir herwinning na Indië verskeep om te verhoed dat die verneukspul met sirkulasie (soos destyds met die Perskor-skandaal) in Suid-Afrika uitlek.

Sekunjalo en Independent Media.

Maar verreweg die grootste rimpelings in die plaaslike koerantbedryf het gebeur toe Iqbal Survé se Sekunjalo-mediakonsortium in 2013 die beherende aandeel (55%) van Independent Media bekom het met opdragte oor hoe daar oor politiek berig moet word. Die Independent-groep is deur Sekunjalo vir R2 miljard van sy Ierse eienaars gekoop nadat Tony O’Reilly se groep Independent leeg gemelk het om sy Britse titels aan die gang te hou.

Survé het erken dat van die meeste beleggingsgeld afkomstig is van ʼn lening van die Staatspensioenfonds (R791 miljoen, tans R896 miljoen). Die Public Investment Corporation (PIC) wat ten volle in staatsbesit is, het 62,5% van die oorspronklike kooprys verskaf. ʼn Hele paar redakteurs van Independent se koerante het uit protes teen die oorname bedank.

Geen koerant is so hard getref as die Cape Times nie – ʼn koerant wat sedert 1876 al bekend is vir sy gehalte. Hier is – as deel van Survé se regstellingsaksie – ruimskoots vuur gemaak onder die koerant se personeel en is daar ook ontslae geraak van vooraanstaande rubriekskrywers (wat almal ʼn nuwe tuiste by Media24 gevind het). Die vryskutmeningsvormer Max du Preez het ook sy bande met die groep verbreek en daar is van dosyne ervare joernaliste ontslae geraak. (Die koerant se jongste sirkulasie is 30 000 teenoor Die Burger se 54 000.)

Die redakteur, Alide Desnois, is ook uit haar pos onthef, iets wat tot groot protes in veral Kaapse koerantkringe gelei het. Haar ongewildheid was skynbaar gegrond op haar onthulling van korrupsie deur die eertydse ANC-leier Ebrahim Rasool en ʼn voorbladberig waarin Survé en Sekunjalo in ‘n swak lig gestel is rakende die Openbare Beskermer se bevinding oor visvangkonsessies. Daar was ʼn bedrag van R800 miljoen ter sprake.

Die koerant se hantering van Nelson Mandela se dood was moontlik die laaste strooi (of verskoning) vir Survé. Die nuus het ná die aand se spertyd gebeur en die Cape Times het dit – soos Die Burger – met ʼn baadjie rondom die hoofkoerant aangekondig. Survé het dit as ʼn politiek geïnspireerde belediging vir Mandela beskou.

Amerikaanse media.

Beskouings van Survé se swak joernalistieke oordeel blyk uit twee kommentare deur gerespekteerde Amerikaanse media.

Time het die koerant geloof vir sy deeglike grafskrif ná die dood van Mandela en dit een van die bestes genoem. Twintig maande later – ná Sekunjalo se oorname – het The Economist ʼn artikel gepubliseer oor hoe die ANC ʼn aansienlike deel van die Suid-Afrikaanse koerantmark bekom het. Die opskrif was “Happy, patriotic news – Freedom of the press is being chipped away under an embattled ANC”.

Intussen loop die koerant gereeld deur oor die swak gehalte van beriggewing (daar was ook voorbeelde van plagiaat), die swak versorging van die Engelse taal, sensorskap deur weglatings, partydige rapportering, sinistere en manipulerende redigering en die ignoreer van die beginsel van audi alteram partem (laat die ander kant ook gehoor word). Dit is ook wat gebeur het toe die Mbeki-faksie die SABC oorgeneem het met onder meer die aanstelling van Snuki Zikalala as hoof van nuus.

Dit is geen geheim nie dat die ANC niks ontsien om die Wes-Kaap – die enigste juweel onder die nege provinsies – van die DA weg te rokkel. Allerlei vorms van destabilisasie en propaganda word aangewend en die Cape Times word ingespan om alles wat die DA-regering doen, verdag te maak. Hiervoor het hy in Sekunjalo met sy basis van belastinggeld ʼn ideale vennoot. The Star is nou tot dieselfde mate die ANC se handperd in Gauteng, waar ʼn kwaai politieke stryd verwag word.

Waar staan die ANC self? Die regerende party vereis nie net “transformasie” van die koerante nie – meer vroue en meer swart mense – maar ook dat die media meer “patrioties” moet wees. Faith Muthambi, die minister van kommunikasie wat so pateties kommunikeer, het ook gesê haar departement streef na die stigting van ʼn mediahuis wat deur swart mense besit word (en sonder twyfel na die ANC se poppe sal moet dans).

Daar kan gewonder word wanneer, hoe en of Sekunjalo in die huidige ekonomiese klimaat en met koerante wat sukkel om finansieel staande te bly sy lenings gaan terugbetaal, en of die skuld maar net deur die ANC afgeskryf sal word. ʼn Minderwaardige produk lei meestal tot groot verliese.

*Sekunjalo kan letterlik vertaal word as“die tyd het aangebreek”.

Org Potgieter, Maroela


Lees ook en Luister na: NASPERS: Ja hoer wat sy romp vir enige regering lig! Sensuur teen Volke


demoncracy2


 

 

Enjoyed this post? Share it!