Wat beteken volksnasionalisme?

Die 19e eeu was die tydvak waarin ons dramatiese worstelinge moes aanskou tussen die Afrikaanse volkskultuur en die Brits Imperialistiese invloed, die Engelse taal en die lewensbeskouing.

Die Afrikaner/Boer se poging om hom daaraan te ontworstel loop dwarsdeur die geskiedenis van die Groot Trek, die Afrikaanse Taalbeweging, die twee Vryheidsoorloë, die stigting van die Nasionale Party en verskeie kultuurbewegings soos die Ossewa Brandwag, die FAK, die ATKV en alles wat gepaardgaande uiteindelik sou ontplooi tot die Afrikaner Nasionalisme beweging.

Prof G Cronjé in die Akademie Jaarboek van 1963 omskryf dit so: “….die totale, omvattende volksaksie van die Afrikaner om homself as nasie te laat geld, om ooreenkomstig eie volksaard te lewe en te ontwikkel, om toestande of verskynsels wat sy selfverwesenliking as nasie bedreig of in die wiele ry die hoof te bied, en om op elke gebied van die lewe – maatskaplik, godsdienstig, kultureel, wetenskaplik, opvoedkundig, ekonomies, politiek – volwaardig te wees, as gelykwaardige sy plek naas ander in te neem en op gelyke voet met ander sy rol te speel en sy bydrae te lewer.”

Hierdie verset het op veral 5 plekke gemanifesteer, wat, eienaardig genoeg niks verander het nie. Die stryd teen Brits Imperialisme is presies dieselfde as die stryd teen die Nuwe Suid-Afrika van die ANC.

1) Daar was die weerstand teen die Engelse taal, kultuur en lewenshouding as simbool van Britse Imperiale verband. Die poging om die Afrikaner te verengels en sy taal uit die skool, kerk en hof te verdring, is oorbekend aan ons almal. Dit is vandag niks anders nie. In die Oscar Pistorius-verhoor het ons weereens gesien hoedat ‘n Afrikaanse reggeleerde ‘n Afrikaanse getuie in die verhoor van ‘n Afrikaanse beskuldigde in Engels moet kruisondervra ter wille van die Engelssprekende regter en Engelse hofproses. Die taal van staatsadministrasie is Engels. Inderdaad word Afrikaans gestigmatiseer as taal van die wit rassistiese onderdrukker, byna net soos wat dit 100 jaar gelede gestigmatiseer is as “Kitchen Dutch”, die taal van die agterlikes.

2) Daar was die weerstand teen die gespletenheid binne die Afrikanervolk deurdat die grootste persentasie van die volk kultureel en kerklik vervreemd geraak en polities diensbaar geword het. Swakkelinge geword het. Daar was Afrikaners wat skielik “Mallurbs” (Malherbe), Labuschaans (Labuschagne) en Wênzaail (Van Zyl) geword het – meer Engels as koning George self. Waar kry ons dit nie dan vandag nog netso onder die eietydse Afrikaner wat meer Afrika-kultureel wil wees as die swartman, meer Mandela-aanhangers wil wees as die ANC en inderdaad in totale afhanklikheid die drogbegrip van ‘ n Nuwe Suid-Afrika wil aanhang nie? Net mooi niks anders nie – selfs polities diensbaar deur die volksvreemde DA te steun en selfs die ANC aan te hang met die praatjies oor die “positiewe toekoms van samewerking en vrede en nie-rassigheid.”

3) Daar was ‘n dinamiese re-kulturasie. Na die twee taalbewegings het talle Afrikaners hulle tuiste in eie taal en kultuur gevind en hulleself in ‘n besonder sterk dinamiek uitgedruk teen Brits Imperialisme. Afrikaner Volksnasionalisme kon plaasvind omdat die “verlooptes” hulle dwaling besef en teruggekeer het na die volkseie. Ons sien dit vandag weer in die steeds sterker wordende en sterker bewoorde besware teen die politieke situasie van die dag. Pas die afgelope week het die terugkerende Afrikaner ‘n liberale klein idioot met ‘n pop opgerol toe ‘n bekende Afrikaner-aktivis onder skoot geplaas is.

4) Die opkoms van Afrikaner nasionalisme het die Afrikaner genoop om vir homself rekenskap te gee van sy ekonomiese krag. Ons volkskultuur is ekonomies verankerd en daarom het ons skouer aan die wiel gesit om die armblanke-kwessie te takel, om Afrikaanse handelsinstellings, ondernemings en nywerheidsinstellings te vestig. Hedendaags word die Afrikaner uit die ekonomie gestoot deur diskrimenrende wetgewing soos Regstellende Aksie en word finansiering om ‘n onderneming of boerdery te begin dikwels ontoeganklik gemaak. Die armblankekwessie is in al sy gruwelike gedaantes weer met ons – gana kyk gerus na enige blanke plakkerskamp in en om ons groter sentra. Gelukkig begin daar oral organisasies soos FN se Selfred Aksie en ander opskiet om hier weerstand te bied.

5) In 1881 skryf iemand in Di Patriot: “Ingels gaan nog beteeken de einde van de toekoms fir ons nasie.” Die Afrikaner het hom verset teen verengelsing op skoolvlak en aangedring op Afrikaanse Universiteite en Kolleges. Dis dieselfde vandag. Hierdie Afrikaanse skole en Universiteite is ons ontneem. Ons sal eenvoudig nuwes moet vorm, en tot tyd en wyl dit gebeur ernstige oorweging skenk aan tuisonderrig en ander alternatiewe om ons kinders te red van die verderflike beïnvloeding van staatsbeheerde onderwysinstellings wat ons nageslag nou-al vergiftig teen wie en wat hulle is.
Een ding staan my egter helder en duidelik voor oë: Afrikaner Volksnasionalisme gaan ‘n “comeback” back of ek eet my sokkies op!

 

10704064_10152361740616512_5802878242280896200_n

 

 

 

https://www.facebook.com/ajax/sharer/?s=99&appid=2309869772&p%5B0%5D=298768153664533&p%5B1%5D=301147290093286&profile_id=298768153664533&share_source_type=unknown

 

Enjoyed this post? Share it!