Wat gaan met ons Ekonomie gebeur:- Gordhan uit, Dlamini-Zuma in?

Die land se minister van finansies, Pravin Gordhan, se poging om beleggers te sien en graderingsmaatskappye in te lig oor sake in Suid-Afrika, is kru gestop met ‘n oproep van staatshoof Jacob Zuma dat Gordhan en sy adjunk moet terugkeer vanuit Londen.

Zuma het geen rede vir sy skielike en verstommende besluit geneem nie, maar daar word gegis dat Zuma ‘n lang verwagte kabinetskommeling beplan.

Dit is bekend dat hy vir Brian Molefe en Nkosazana Dlamini-Zuma in die kabinet wil opneem om sy persoonlike steunbasis daar te vergroot en die moontlikheid dat Jonas en/of Gordhan die trekpas kan kry lyk groot.

In antwoord op Zuma se vreemde optrede, het die rand onmiddellik aansienlik verswak. Ekonome striem Zuma vir die besluit en reken dat die rand weer sterk onder druk kan kom.

Ook VF+ het in ‘n verklaring Zuma se stap skerp gekritiseer. Parlementslid Anton Alberts sê die moontlikhid dat die toer na Brittanje en later na Amerika nie gemagtig is nie, is bloot nie geloofwaardig nie. So ‘n toer sou vooraf deeglik beplan en goedgekeur moes word deur die nodige strukture.

“Die blote feit dat pres. Zuma tot dusver geen rede verskaf nie, is genoeg rede om die rooi ligte te laat flikker en kom neer op niks anders nie as ‘n doelbewuste benadeling van die ekonomie. Hy moes die gevolge hiervan sekerlik kon voorsien, maar nou word daar oudergewoonte geswyg,” sê adv. Alberts.

Adv. Alberts het selfs sover gegaan as om te sê dat daar selfs bespiegel kan word dat mense in die president se dampkring beleggingsposisies teen die rand kon inneem wetende dat die rand sterk sou val na die aankondiging.

“Die groot ironie is egter dat min. Gordhan en sy adjunk Mcebisi Jonas juis op ‘n uitgebreide toer gegaan het om beleggers te lok. Nou het die toer ontaard in ‘n spektakel wat beleggers eerder sal afskrik.

“Wat ook al die rede vir die minister se terugroeping, al hierdie positiewe dinge is in een haal van die bord gevee deur pres. Zuma se uiters ondeurdagte optrede,” sê adv. Alberts.


Enjoyed this post? Share it!