Wat spoor prof Wim aan om Afrikaans as onderrigtaal by Maties te vernietig?

Om watter rede is prof Wim de Villiers en sy Universiteitsraad so verbete daarop ingestel om Afrikaans as onderrigtaal by Maties te vernietig?

Daar is allerhande verskonings oor hoe die nasionale demografie gereflekteer moet word en hoedat studente beter geleenthede het met Engelstalige onderrig en nog 110 ander verskonings. Dit ten spyte daarvan dat ‘n besluit om die Universiteit te verengels onwettig is. Die reg tot onderrig in moedertaal is ‘n grondwetlike reg. Binne die radius van 150 km is daar DRIE ander Universiteite waar onderrig in Engels aangebied word – CPUT, UCT en UWC. Die enigste moontlike (grondwetlike) opsie om onderrig in Afrikaans te ontvang vir die persoon wat dit so verkies, word dus weggeneem.

Daarbenewens is die bepaling van die testament van Jan Marais, waaruit die Universiteit tot hierdie dag befonds word, glashelder: Dit moet ‘n Afrikaans/Nederlandse instansie wees.

As prof De Villiers en sy agterryers dus nou weet dat hulle verskonings maar flouerig is en hulle aksie waarskynlik onwettig – waarom gaan hulle daarmee voort?

Die antwoord lê eenvoudig in die woord: Lamsakkigheid.

Die besluit is ‘n paaitaktiek vir ‘n opstandige groep moeilikheidmakers onder die vaandel van “Open Stellenbosch” wat skree om “De-kolonisasie” , “Fees must Fall”, “gratis onderwys”, “Verengelsing.” Die aanhitsing kom uit die koers van ekstremistiese linkse politici en Kaapse liberale. En instede daarvan om standpunt in te neem en eenvoudig te sê: “As dit jou nie hier geval nie, daar is drie ander opsies vir jou waar jy dalk eerder tuis sal voel,” moet die meerderheid toegewings maak en verontrief word om die minderheid se sin te gee.

Hulle eis dat ons ons taal opgee. Dis ongelukkig te veel gevra. Die antwoord is: Nee.

En hulle eise sal nie daarmee ophou nie. Eersdaags moet die naam van die Universiteit verander, dan sal die beeld van Jan Marais op die Universiteitsplein die pad van die Rhodes beeld volg, daarna sal koshuise name verander om “struggle helde” te vereer en die pad na totale ondergang, wat ons nou-al so goed ken, sal oop lê.

As u nou vra: Is dit waarom julle gaan protesteer more? Dan is my antwoord: Ja, dit ook. Maar bowenal: Selfs al steur Wim de Villiers hom nie aan die protes nie (soos wat hy spog hy doen), kom daar eenmaal ‘n dag wat iemand gaan vra: Hoekom het julle dan niks gedoen nie? Op daardie dag wil ek ‘n goeie antwoord gereed hê.

Deur: Daniel Lötter/Front Nasionaal SA


Enjoyed this post? Share it!