Waterkrises verdiep

Bloemfontein. – Die waterkrisis in Suider-Afrika vererger met die Vaaldamstelsel wat onder groot druk verkeer.

Die krisis verdiep omdat dit toenemend moeiliker is om dié rivier aan te vul met water uit die Katsedam waarvan die watervlak ook bly daal.

Van die Katsedam se water wat vir die Vaaldam bestem is, word ook nou gekanaliseer na die Caledonrivier wat Oos-Vrystaatse dorpe en Mangaung van water moet voorsien.

 Rossouw Botes, DA-raadslid en waterkenner van Bloemfontein, sê hy verneem in die volgende paar dae gaan in dieStaatskoerant afgekondig word dat Mangaung verplig gaan word om 30% van sy waterverbruik te bespaar.

Dit kom nadat Mangaung reeds in Mei vanjaar ’n besparing van 20% in werking gestel het.

Dit blyk Lesotho sal ook 10% op sy waterverbruik moet spaar.

Dit sal ’n algehele besparing van 40% uit die Caledon-Modderrivier-waterstelsel teweegbring.

Botes sê waterlekke sal vinniger reggemaak moet word en die metro sal meer werkers en voertuie beskikbaar moet stel om onregmatige waterverbruikers vas te vat.

Vergaderings vir die bou van die Gariepdam-pypleiding oor 180 km van die Gariepdam na Bloemfontein word ook nou op verskeie dorpe in die Vrystaat gehou. Die vergadering hieroor in Bloemfontein word vir 22 Junie beplan.

Die watervlakke van opgaardamme in Suid-Afrika en Lesotho is nou gemiddeld 53% vergeleke met verlede jaar se 76%, terwyl watervlakke van damme net in Lesotho vandeesweek 47% is teenoor verlede jaar se 71%.

Dit is volgens die statistieke op die webblad van die departement van waterwese en sanitasie.

Die watervlak van die Katsedam is nou 45%.

In die Vrystaat is die gemiddelde vlak nou 54% teenoor verlede jaar se 80% en in die Noord-Kaap 64% teenoor verlede jaar se 87%.

Dr. Tseliso Ntili, Vrystaatse hoof van die departement van waterwese en sanitasie, sê die waterkrisis in Suid-Afrika en Lesotho vererger.

“Die sneeuneerslae die afgelope week in Qwaqwa en die Oos-Vrystaat het die hoop laat opvlam dat die water in van die riviere, soos die Caledonrivier, aangevul sal word wanneer die sneeu smelt,” het Ntili gesê.

Bron: Netwerk 24


 

Enjoyed this post? Share it!