Watter skande -Verpleging by kerslig

Vrystaatse Psigiatriese Kompleks al maande sonder krag

Bloemfontein. – Honderde permanente pasiënte – van wie sommige aan rolstoele gekluister is en doeke dra – word al maande lank by kerslig in die Vrystaatse Psigiatriese Kompleks (vroeër die Oranje-hospitaal) in Bloemfontein verpleeg.

Boonop is die kompleks se enigste elektrisiën, Rayno Cramer (44), in die tronk nadat hy twee keer lewenslange tronkstraf opgelê is vir statutêre verkragting.

Niemand is in sy plek aangestel nie. Dit het die toestand vererger.

Gerhard Koorts, provinsiale bestuurder van die Vereniging vir Staatsamptenare, sê die omstandighede in die kompleks is haglik.

“Personeeltekorte is ’n baie groot probleem. Daar is nie genoeg personeellede om die pasiënte te versorg en om almal se veiligheid te verseker nie. Sommige van die pasiënte kan gevaarlik wees.

“Die pasiënte is almal matig tot erg verstandelik gestrem. Die feit dat sommige van die pasiënte aan rolstoele vasgekluister is en doeke dra, vererger die probleme.”

In die Kosmos-eenheid, waar meer as 400 pasiënte permanent versorg word, is sale waar daar twee en ’n half maande laas elektriese krag was.

Van die ander sale se krag het ook vandeesweek ingegee, terwyl die administratiewe blok van die Vrystaatse Psigiatriese Kompleks ook Donderdag sonder krag was, wat veroorsaak het dat telefone nie gewerk het nie.

In die Oliengebou waar akute pasiënte en jong mans verpleeg word wat misdade gepleeg het, maar wat nie verhoorbaar is nie, was die krag ook af. Van daardie elektrisiteitsprobleme is intussen herstel.

Kragtoevoer in ’n kombuis is Donderdag teen 11:00 herstel.

Koorts sê: “Hoewel sommige probleme vandeesweek deur ’n buitekontrakteur opgelos kon word, bestaan heelwat probleme steeds en is daar steeds sale waar pasiënte snags by kerslig verpleeg word.”

Hy sê die algemene verhitting, soos die verwarmers en die ondervloerse verhitting, werk in baie van die sale ook nie. Die muurproppe het ook geen kragtoevoer nie. Daar is ’n groot tekort aan klere en warm komberse vir pasiënte.

“Dit is sover my kennis strek die eerste keer dat die hospitaal so lank sonder krag is en soveel probleme ondervind,” sê Koorts.

“’n Paar jaar gelede was daar ook ’n elektriese transformator wat stukkend was en was daar kragonderbrekings vir slegs twee dae in die somer, wat toe onmiddellik opgelos is.”

Volksblad het Donderdagaand by die kompleks gaan ondersoek instel en gesien daar is nie warm water vir van die pasiënte om mee te stort nie.

Verpleegkundiges en versorgers wat hul hande gereeld in die yskoue water moet was, se hande “gee ook in”. Hulle moet voortdurend by aptekers om hulp aanklop.

Cramer is vroeër vanjaar tronk toe gestuur omdat hy ’n meisie, nou 26 jaar oud, in 2003 en 2004 onsedelik aangerand en verkrag het. Die eerste voorval het op ’n geselligheid in haar oupa se huis plaasgevind toe sy 14 jaar oud was.

Volksblad het gister navraag oor die elektrisiteitsprobleme by Mondli Mvambi, die Vrystaatse gesondheidswoordvoerder, gedoen. Hy het ontvangs erken en gesê hy het die navrae na die betrokke partye aangestuur en sal so gou moontlik kommentaar lewer.

Bron: Volksblad


 

Enjoyed this post? Share it!