Weereens kaderverryking

Weereens kaderverryking

Nurses and pilot carrying patient on stretcher to helicopter

Nurses and pilot carrying patient on stretcher to helicopter

In die soveelste geval van baantjies vir boeties het ‘n onbekende lugdiens, sonder ‘n rekord, die tender as voorkeurverskaffer vir lugambulanse gekry.
Twee van die mees ervare verskaffers van lugmediese dienste, ER24 en die Rooi Kruis-noodlugdiens (AMS) het nou by die tesourie beswaar hierteen aangeteken.
Die lugdiens, Fly Fofa, het geen diensrekord nie maar die eienaar, Charles Theu, was voorheen die direkteur van nooddienste in die Departement van Gesondheid en het gehelp met die opstel van die spesifikasies van die tender.
Phindiwe Gwebu, woordvoerder van die BLO, het bevestig dat Fly Fofa die vereiste lisensie het om ’n lugambulans te bedryf.
Die lagwekkende is dat die nuwe lugdiens wat nou die kontrak ter waarde van miljoene rand gekry het, besit nie eers ‘n vliegtuig, loodse of gekwalifiseerde noodmediese bemanning nie.
Maar ER24 en AMS wil weet waarom hulle bewyse van hul ondersteuningsnetwerk, besonderhede van hul vliegtuie en hul diensrekord moes inlewer, terwyl Fly Fofa die kontrak kon kry al het hy nog nooit voorheen so ’n diens verskaf nie.
Theu sê hy gaan ’n vennoot se vliegtuig (’n King Air 200) in KwaZulu-Natal gebruik, en hy gaan twee soortgelyke vliegtuie aanskaf. Hy het ook ooreenkomste met vliegtuigverskaffers om nog vliegtuie te huur indien nodig.
AMS het vyf vliegtuie gebruik om dieselfde diens te lewer. Die bestaande kontrak om tot 2,000 ernstig siek mense per jaar uit landelike gebiede te vervoer, verstryk die einde van die maand. Theu sê hy neem die kontrak op 1 November oor. Niemand weet wie tot dan die diens lewer nie.
Dr. Philip Erasmus van AMS sê hulle het die diens sedert 1998 gelewer. “Ons het nagenoeg 300 spesialiste en mediese vrywilligers op ons databasis wat gratis help met dié diens. Ons het personeellede wat ons kliëntediens 24 uur van die dag beman om te verseker dat daar geen haakplekke is wanneer ’n lugambulans ontplooi moet word nie.
“Dit slaan my dronk dat ’n verskaffer wat geen bestaande onderbou het nie, bo ons verkies is. Ons wil graag weet of die gesondheidsdepartement in die saak geken is voordat die tesourie die kontrak toegeken het, het hy gesê.
Kenners sê hierdie is net weer ‘n geval waar ‘n effektiewe diens wat in effektiewe hande was, vernietig gaan word. Suid-Afrika se hospitale kon gedurende die Apartheidsjare met die bestes in die wêreld vergelyk; tot dusver was die diens van die lugambulanse beter as die ambulansdienste van die hospitale, maar dit gaan ook nou in duie stort. Die Vryburger

Enjoyed this post? Share it!